Fielies, ’n geliefde hond wat deur die Wellingtonse Dierebeskermings-vereniging (DBV) ingeneem en gerehabiliteer is, is een van die gelukkige honde wat die afgelope maand ’n permanente tuiste gekry het.
Dít is volgens Liz Down, verbonde aan die Wellington-DBV, wat in Januarie vanjaar 31 aannemings aangemeld het – ’n rekordgetal sedert hul opening 70 jaar gelede.
Volgens Down is altesaam ses volwasse katte, agt babakatjies asook vyf babahondjies en 12 volwasse honde aangeneem, waarvan klein Fielies een is.
Fielies is deur ’n motor raakgery en vir dood langs die pad agtergelaat totdat die Wellington-DBV hom in November 2023 ingeneem en versorg het.
Nietemin – vanweë sy lus vir die lewe en vriendelike geaardheid – het Fielies in ’n japtrap sy nuwe mens-ma, Amelia Olivier, ontmoet, en dit was behóórlik liefde met die eerste oogopslag.
Down glo dat die groot aantal aannemings die afgelope maand te danke is aan die DBV se sosiale- media-teenwoordigheid op Facebook, wat tans meer as 10 000 volgelinge het.
Hiér deel Down hartroerende stories oor diere wat deur die DBV ingeneem is, hul herstelpad, en uiteindelik die aannemingsproses, soos dié van klein Fielies.
“Daar is gemengde gevoelens wanneer die diere aangeneem word, omdat ons geheg raak aan hulle,” het Down verduidelik.
Nietemin is die span by die Wellington-DBV bly dat die diere ’n tweede kans in die lewe kry.
“Deur plaaslike dierewelsynorganisasies te soek om in my vrye tyd te besoek, het ek per ongeluk deur hul [Wellington-DBV] se sosiale media geblaai op soek na die perfekte vrywilligerwerk. Toe, onverwags, pronk Fielies se glimlag voor my. Daar was ’n onmiddellike band en ’n opwelling van emosie wat my verras het,” het Olivier gesê.
“Vandag is ek en Fielies onafskeidbaar. Saam verken ons die rustige skoonheid van plaaslike damme en verlustig ons onsself in buitemuurse aktiwiteite soos dierevriendelike kamp- en staproetes saam met ander honde. Ek het in Fielies nie net ’n troeteldier gevind nie, maar ’n doel, en ’n beste vriend.”
Skakel die Wellington-DBV by 021 864 3726 indien jy graag ’n dier wil aanneem.





