Wellington-bejaardesorg, ’n sosiale klub vir senior burgers, se brei- en hekelnaalde was die afgelope paar weke baie besig voordat 80 mussies en 40 serpe aan Networking for Christ se Beanie Drive ter viering van Mandeladag oorhandig is.
“Ek het die advertensie gesien op die Facebookblad van Heather Levendal, wat by die St Albans Youth-kerk betrokke is en besluit om wintertoebehore vir Networking for Christ in te samel,” het Lenna Paulse, administrateur van Wellington-bejaardesorg, gesê.
“Ek het ons lede van die ‘Beanie Drive’ vertel, en almal het eenparig besluit om deel van die projek te word,” het Paulse verduidelik.
Die projek was om mussies en serpe in die winter aan lede van die gemeenskap, wat nie sulke luukses kan bekostig nie, te oorhandig.
Die 28 klublede het altesaam 120 artikels gebrei en gehekel, wat die skenking aan Networking for Christ enorm gemaak het, het Levendal, jeugleier van St Albans Youth,verduidelik.
Networking for Christ
is ’n nie-regeringsorganisasie en ’n gemeenskapopheffingsprogram wat terselfdertyd Christenskap bevorder en het ’n kantoor in die Paarl sowel as een in die Oos-Kaap.





