Die afgelope maande was die beurtkrag-verligting te goed om waar te wees, maar hierdie week is die land met ’n terugkeer na vlak-6-beurtkrag weer deur Eskom bloedneus geslaan.

Wat wel verwelkom kan word, is noodkragopwekkers wat deur die Drakenstein-munisipaliteit in werking gestel is om die wanfunksionering van die vallei se water- en rioolstelsels uit te wis. Hierdie stap is ’n geruime tyd gelede gedoen nadat die Drakenstein-munisipaliteit by die Stad Kaapstad en ’n paar ander munisipaliteite ingesluit is om hul eie krag op te wek.

Deur die jare het Eskom geheel en al in sy plig gefaal en dis ’n feit soos ’n koei dat beurtkrag nie binne die volgende paar jaar sal ophou nie.

Nuwe energie-regulasies maak dit moontlik vir munisipaliteite om hul eie krag op te wek, aan te skaf en te verkoop – iets wat die nasionale regering jare lank probeer keer het.

Ons hoop dat Drakenstein die voortou sal neem met meer sulke projekte om ons te bevry uit die huidige korrupte en wanfunksionerende kloue van die heersende regering, asook om sy belastingbetalers uit die beurtkrag-verknorsing te probeer help.

Indien hierdie geleentheid suksesvol deur Drakenstein benut word, kan dit reuse-beleggings en ontwikkelings­moontlikhede vir die vallei beteken, wat die ekonomie op alle vlakke van krag tot krag kan laat gaan en laat groei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article