Gysbert Wege, kaptein van HJS Paarl se eerste krieketspan, is pas aangewys as die hoërskoolwenner vir die maand in die Paarl Post– Sportster van die Jaar-kompetisie.
Gysbert het pas sy 50ste wedstryd vir die skool gespeel.
Hierdie belowende krieketspeler het die afgelope krieketseisoen nie minder nie as vyf honderdtalle geslaan, wat onder meer ’n telling van 242 (nie uit nie) teen Somerset College insluit. Daarbenewens het hy ook vroeg in die seisoen vyf paaltjies vir 41 lopies ingeoes.
Gysbert het in die Interskolewedstryd ’n groot bydrae met twee paaltjies gelewer. Hy het boonop HJS se voorste lopiemaker in die geskiedenis geword met 1 417 lopies teen ’n gemiddelde van 70,85 in 24 kolfbeurte.
Gysbert speel tans ook vir die Outlaws in die Kaapstadse Premierkrieketliga. Hy het in die huidige toernooi reeds ’n honderdtal (110) en ’n vyftigtal (51) aangeteken nadat hy vroeër in die seisoen ook drie honderdtalle in die reeks aangeteken het en as kolwer van die toernooi aangewys is.
Gysbert was die Boland-o.19-kaptein en sy goeie vertonings het hom ’n plek in die Cubs-span, wat die beste spelers uit die SWD, WP en Boland insluit, verseker.
Gysbert, wat op nr. 3 kolf, sê hy wil gewis ’n loopbaan in krieket volg. Hy beoog om aanstaande jaar in ’n sakerigting te gaan studeer, maar sal vir eers op krieket fokus. Hy sê sy grootste droom sal wees om eendag vir sy land te kan speel.
Hy en sy tweelingbroers, Christiaan en Johan, ook kranige krieketspelers, is almal inwoners van Boishaai se Imhoff-koshuis.. Skryf só in vir Paarl Post se Sportster van die Jaar-kompetisie: Hierdie kompetisie duur van Maart tot Oktober waartydens elke maand twee jong sportsterre – een in die hoërskool en een in die laerskool – deur ons paneel beoordelaars as maandwenners gekies sal word.
Die kompetisie is dus oop vir alle jong sportmanne en -vroue wat hul streek, provinsie of land in hul onderskeie sportkodes verteenwoordig het.
Vorige wenners van die kompetisie sluit in die Olimpiese atleet Vuyo Manyonga en die Springbok-rugbyster Handré Pollard.
Skole, afrigters, onderwysers, ouers en klubs mag hul sterre benoem.
Benoemings met ’n kort motivering oor hoekom iemand vir hierdie toekenning benoem word, plus ’n foto, kan per e-pos aan Lise Beyers by sport@paarlpost.co.za gestuur word. Anders kan benoemings by ons kantoor by Newstraat 1A (langs Virgin Active-gimnasium) afgelaai word.
Die maandelikse wenners sal in Paarl Post verskyn en elkeen sal ’n geskenkpak ontvang. ’n Glansgeleentheid sal aan die einde van die jaar gehou word waar die algehele wenners sowel as die gewildste wenner aangewys sal word. Bel Lise by 079 516 6941 of stuur e-pos na sport@paarlpost.co.za.





