Hoe goed ken jy kinders? Sê nou net ’n groep kinders tussen die ouderdom van ses en nege word ’n klomp vrae gevra, sal jy kan raai wat hul antwoorde is?
Indien so, is dit nou jou kans om ’n deelnemer aan ’n nuwe speletjiesprogram op kykNET te wees. Heerlike pryse is op die spel en sluit gesinsnaweke en geld in.
Die aanbieder van Kyk wie praat is die immergewilde De Klerk Oelofse. Nege kinders neem aan elke program deel en sal die vyf deelnemers op hul tone hou.
“Ek dink een van die slegste dinge van ouer word, is om so ’n stukkie van jou onskuld te verloor,” sê De Klerk. “Kyk wie praat is my kans om opnuut deur die oë van klein mensies na die wêreld te kyk. Dis natuurlik ’n bonus dat hulle vrek snaaks is!”
Die vyf deelnemers per program word ronde vir ronde uitgeskakel totdat net een oorbly. ’n Gesinsnaweek is op die spel indien dié deelnemer genoeg punte ingesamel het.
Deelnemers kan ook R10 000 per program wen, maar indien dié bedrag nie gewen word nie, staan dit oor tot ’n boerpot-prys wat in episode 13, die laaste program in die reeks, gewen word.
In hierdie program neem die vyf deelnemers wat die meeste punte in die vorige twaalf programme ingesamel het, teen mekaar deel.
Klink dit na pret? Skryf dan in en jy kan moontlik een van die deelnemers wees. Die kinderdeelnemers vir die reeks is reeds gekies. Nou kort nog net die volwasse deelnemers, wat minstens 18 jaar oud moet wees.
Kyk wie praat word van 5 tot 17 Junie in Kaapstad verfilm. Indien jy een van die deelnemers is, moet jy self tot by die ateljees in Montague Gardens, waar die opnames verfilm word, kan reis.
Hoe nou gemaak? Neem solank ’n video van nie langer nie as twee minute van jouself – vertel meer van jouself, of jy ’n spesiale kind of kinders in jou lewe het en hoekom jy dink jy die regte deelnemer vir die program is.
Jy moet natuurlik ook jou naam, adres, telefoonnommer en e-posadres byvoeg.
As jy jou aan die program kan sien deelneem, besoek die webblad https://shortaudition.com/kyk-wie-praat. en voltooi jou inskrywing aanlyn.




