Wees waaksaam met dit wat in jou kop en jou hart aangaan. Neem geduld saam op elke reis (lank of kort) van jou. Soek vir die goed en mooi in ander eerder as om die lelik aan die groot klok te hang.

Hierdie is maar van die enkele gedagtes waaraan ek my telkens moet herinner die afgelope tyd. Die eenvoudige rede daarvoor? Die tye waarin ons onsself bevind, vereis dit meer as ooit tevore. Ek weet nie van jou nie, maar ek kom die laaste tyd al meer agter dat ons as Suid-Afrikaners soveel redes kan aanvoer om negatief te wees oor alles en almal.

Ja ja, dit sluit veral ook ons lot met die nasionale kragvoorsiener in.

Die lys van redes vir ons misnoeë raak al langer as ons alles wat die afgelope klomp jare in ons land afgespeel het in ag neem. Laat ek maar liefs nie daai lys begin opnoem nie, want netnou verloor ek my aptyt om hierdie artikel verder te skryf!

Van hierdie landsgebeure glo ek het baie van ons tot diepe bekommernis gedryf, want waar gaan dit alles eindig? Ek is van nature nie ’n pessimistiese mens nie, maar vir die eerste keer was ek regtig diep bekommerd oor die stand van sake in ons mooi land.

Dis in my soeke na dit wat die vrede in my siel sal terugsit dat ek opnuut besef het dat daardie vrede in myself maar ook in die goedheid en harte van my mede-Suid-Afrikaners te vinde is. Ek het nodig gehad om myself net weer te herinner dat daar baie meer goed as sleg in ons land opgesluit lê. In ons mense wel, maar in hierdie stadium beslis nie by party-politieke strukture of instellings nie. Die gees wat op politieke vlak heers, het ook op verskillende vlakke na Jan Alleman oorgespoel. Gelukkig darem nie almal nie, want dan het ons gouer op ’n fiasko afgestuur.

Daai gees waarna ek verwys, word al meer bespeur in hoe ongeduldig mense met mekaar is. Hoe blatante arrogansie partymaal die oorhand kry in jou dag tot dag interaksie met ander. Op ’n subtiele wyse ly ons verhoudings as mede-burgers van ons pragtige land daaronder, want ons vergeet so maklik dat die ware krag van ’n demokrasie in sy mense lê. Mense wat saamstaan en saam veg vir reg en geregtigheid. Mense wat die pilare waarop ons konstitusie gebou is met alles in ons sal beskerm.

Die gemors wat tot op hede in ons land aangaan, het tot op so ’n vlak begin eskaleer dat dit ’n verlammende effek op die psige van menige in Suid-Afrika het. Soveel so dat die meeste van ons al meer soekend is na die lig en hoop aan die einde van die tonnel. Die meeste van ons is al moeg en vuisvoos geluister na al die skandale, bedrog en noem maar op. En as jy dan jouself so onregmatig verryk het uit die bronne van een of ander staatskoffer, wat meer wil jy dan nog hê? Skaamte is vir baie van hierdie bodemlose mag en welvaartsoekers ’n woord wat definitief nie in hul woordeskat bestaan nie. En om alles te kroon, was ons veronderstel om teen hierdie tyd al die vrug van ons demokrasie as ’n nasie te kon smaak. Wel, dit wil vir my voorkom asof ons eers “rock bottom” moet bereik voordat daar drastiese veranderings sal kom.

My trippie na ’n vulstasie in die Paarl die ander dag was vir my sprekend van die gees wat so geneig is om in ons land te heers. Ek het oudergewoonte by die padreëls gehou en wou indraai na die vulstasie. Die taxibestuurder langsaan het bloot my ingang versper. Ek vra toe mooi dat ek net toegang kan kry waarna daar op my geskree is, want ek was kwansuis ongeduldig.

Die onmiddellike wonder by myself was of ons dan regtig in sulke aaklige boelies ontaard het. Nie net op ons paaie nie, maar in soveel ander sfere van ons samelewingsbestaan?

Dis die vriendelike petroljoggie, Sipho, by die vulstasie wat my opnuut net weer herinner het dat ek my nie moet ontstel oor die optrede van die taxibestuurder nie, anders sal dit my siek maak of my woede sal oorspoel in ondeurdagte optrede wat tot groter frustrasie en probleme kan lei. Ek het meteens nie meer alleen gevoel in my frustrasie met die taxibestuurder nie. Ek het my waardigheid behou en as die uiteindelike wenner uit die stryd getree. Maklik is dit beslis nie, maar in die tye waarin ons onsself bevind, is dit nodig om op ’n daaglikse basis paraat te wees teen die euwels van ons tye. Daarmee saam het ons nodig om onsself te herinner dat ons saam soveel sterker is.

Dis so maklik om te veralgemeen en as Suid-Afrikaners is ons so geneig om daardie maklike roete in te slaan wat sê dat alle mense van so en so ’n groep nou maar eenmaal sus of so is. Fout.

Kom ons bly veg vir ons eenheid in verskeidenheid midde-in al ons uitdagings.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article