Die Werk vir Water werkers wat tans op die Bergrivier werksaam is.

Credit: SYSTEM

Die Weskus-distriksmunisipaliteit koördineer en bestuur jaarliks die Werk vir Water-projek in die Weskusstreek.

Dié program is daarop gemik om indringer- en ander uitheemse plante te verwyder, aangesien dit baie meer water as inheemse plantegroei gebruik. In uiterste gevalle laat hierdie indringerplante inheemse plante uitsterf.

Met die toelae wat deur die departement van omgewingsake aan die munisipaliteit toegeken is, het die WDM in die 2022-’23-boekjaar 18 voltydse werksgeleenthede vir individue van die Weskus-omgewing geskep.

Tans werk die Werk vir Water-span by die Bergrivier waar hulle uitheemse plantegroei tussen Hermon en Velddrif verwyder. Die Bergrivier is ’n groot waterbron in die streek en vervul ’n kernrol wat toerisme in die Weskus betref. Die jaarlikse Bergrivier-kanomarathon vind op dié rivier plaas en die skoonmaak van hierdie uitheemse plantegroei verseker dat die kanomarathon sonder sulke hindernisse kan plaasvind. Bykomende opleiding soos waterveiligheid, gesondheid, noodhulp en onkruiddoder-opleiding is deel van die program.

Die Weskus-distriksmunisipaliteit administreer en bestuur die Werk vir Water-program in die Weskusstreek deur ’n ooreenkoms en vennootskap met die departement van bosbou, visserye en omgewingsake (DFFE). Die program is daarop gemik om indringer- en uitheemse waterplante (veral hiasinte) te verwyder. Hiasinte, wat met inheemse spesies meeding, skep hindernisse vir ontspanning en gebruik baie meer water as inheemse plantspesies.

Indringerplante hou nie net ’n direkte bedreiging vir Suid-Afrika se biologiese diversiteit in nie, maar ook vir watersekerheid, die ekologiese werking van natuurlike stelsels en die produktiewe gebruik van grond. Dit verhoog ook die impak van brande en oorstroming sowel as gronderosie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article