Het die munisipaliteit nou gewag vir die verkiesing om klaar te wees en ons dan in te lig oor die tariefverhogings en bestuur-aanstellings?
Dit is dan die “City of Excellence”, maar die excellence kan nie deursigtig wees met die gemeenskap wat die uitstekende stad moet dien nie.
R4,1-miljard-begroting. En die arme mense wat 60% van die burgers in die stad van uitnemendheid uitmaak, kry R400 000 vir sopkombuise. Is dit wat die 60% van die burgers werd is – ’n koppie sop per dag?
R800 000 gaan vir die nagskuiling omdat die haweloses hulle nou aan die ander kant van die Bergrivier begin huisves, en nou is dit ’n probleem vir sekere mense.
“Community Development” – altesaam R1,2 miljoen. Weet julle – R1,2 miljoen is 0,03% van R4,1 miljard. En die ergste van alles is julle noem dit “Community Development”. Is julle dan gek – sopkombuise en nagskuilings?
Ons jeug speel elke naweek krieket – maak nie saak of dit reën of bloedig warm is nie – op verwaarloosde velde sonder enige fasiliteite; nie eens ’n waterkraan nie. Hulle kry nie eens ’n koppie sop as hulle klaar is nie, of ’n dak oor hul sitplekke nie.




