Week in en week uit is daar alewig klagtes oor die vervalle toestand van Wellington.

Verlede Donderdag (23 Maart) het ’n Wellingtonse vrou haar klaaglied op die Wellington Aksie Groep (WAG/Stop) Facebook-groep gedeel.

Sy kla oor die dreigende gedrag van straatlopers wat daagliks voor haar onderneming dwaal.

“Ons besighede ly daaronder, veral hier in Kerkstraat! Daar word gesit voor die winkels, geraas en baie lelik gevloek. Sommige straatlopers het skaars klere aan. Toe ek die einste mense vra om voor my winkel weg te beweeg, word my vertoonvenster met kos en druiwe wat hy besig was om te eet, gesmeer. Nou word ons winkel geteiken. Hulle kom staan heeltyd voor die winkel, wat mense van ons af weghou.”

Die arme vrou vertel ook dat ’n taxi ’n paar weke gelede voor Spar in Kerkstraat gestop en mense ’n “lekker party gehou en sommer in die middel van die pad gedans het”!

“My winkel se buurman het binne een week glo twee voorvalle van diefstal beleef. Wat het van ons mooie Kerkstraat geword?”

Die frustrasie van Wellingtonners wat hul dorp ten alle koste en moeite wil bewaar, herstel en verfraai neem by die dag toe.

Een ding wat ek wel as ’n gebore Gautenger van Wellingtonners waardeer is hul passie vir hul dorp. Om dit te behou, herstel en te verfraai.

Soveel so dat sakelui gereeld hul hande diep in hul eie sak steek om die dorp en sy bekende bakens, soos die poskantoor, te herstel en op te knap.

Uit my agtergrond as ’n stadskind is dit iets wat totaal vreemd is.

Daarvoor salueer ek julle en ek hoop van harte dat ’n ommekeer in die toestand van die dorp sal posvat.

Mag elke inwoner se trots vir Wellington se mooie strate aansteeklik raak dat dié morsjorse hul vuil en gevaarlike lewenswyses sal afleer en eerder die hardwerkende kultuur van Wellington aanleer.


Waardeer ,

Wellington

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article