Ek is ’n intekenaar op Netwerk24 en as ’n Paarliet van geboorte. Ek woon nou in Gauteng met sterk familiebande in die Paarl, en ek maak dit my plig om weekliks Paarl Postte lees.
Die koerant berig nou al vir ’n derde week in ’n ry oor die wettelose situasie langs die Bergrivier.
As ’n Paarlse boorling ken ek die oewers van die rivier goed.
As ’n reël besoek ek my familie elke jaar in die feestyd, en die afgelope feestyd was ek vir ’n paar dae ook in die Paarl.
Een van my hoogtepunte was ’n reünie van ’n klomp jongmanne, almal afgetrede militêre manne, op 27 Desember in New Orleans Park.
Die Park, soos ons die plek noem en ken, het tot my teleurstelling net agteruit beweeg. Wat die Paarl-munisipaliteit met die plek probeer doen, gaan my verstand te bowe! As jongman was dit die uithangplek vir die “boys”, maar met my laaste besoek op 27 Desember was die plek leeg, verlate en vervalle. Min is aan die infrastruktuur van die Park sedert my jongmansdae gedoen.
Met uitbreidings wat die afgelope jare in die Paarl plaasgevind het, is die Park die enigste ontspanningsgerief vir die gemeenskappe in die omliggende gebied. Met geen wateraktiwiteite in die omgewing nie, en met die kwik wat oor 40 °C styg, gaan julle nog lank oor die Bergrivier se oewer berig.
Dit is tyd dat die politieke leiers gaan stilsit en met oplossings kom om die probleem die hoof te bied.
Die inwoners langs die rivier het die reg om warm te raak oor wat naweek vir naweek langs die rivier aangaan.
Só het die inwoners van gebiede soos Lantana, Amstelhof en Chicago ook die reg op ontspanningsgeriewe, waar hulle op ’n ordelike manier kan gaan ontspan.
Die bydrae vir dienste wat na die koffers van die munisipaliteit van hierdie gemeenskappe gaan, is ewe belangrik vir die voortbestaan van die dorp. Ek hoop my bydrae kan ’n verskil maak, en as ek nog gespaar is tot einde 2022, wil ek weer met die “boys” in die Paarl ’n vleisie oor die kole gaan gooi!
Eenmaal ’n Paarliet, altyd ’n Paarliet!




