SA sit in ’n verknorsing as gevolg van ’n ekonomiese resessie ná covid asook ’n geweldige energiekrisis wat ’n ieder en ’n elk van ons se finansiële welvaart ernstig bedreig.
Koelkoppe word nou benodig om hierdie uitdagings die hoof te bied – nie politieke heethoofde nie. Die debatte oor Drakenstein se munisipale tariewe word aanhoudend, ad nauseam, deur sekere mense in die samelewing gevoer – sonder positiewe uitkomste. Ons het nou genoeg daarvan gehad.
Die persepsies en selektiewe aanhalings van feite deur die skrywer van die artikel in verlede week se Paarl Post oor die DM se tariewe (op bl. 8), dui daarop dat die betrokkene oningelig of moedswillig is, of heel moontlik belastingbetalers vir eie politieke gewin doelbewus mislei. Die sakekamer verkies steeds om nie aan kleinlike politieke debatte deel te neem nie omdat ekonomiese welstand gegrond is op bewese ekonomiese beginsels en resultate, en nie opgewerkte emosies nie.
As die skrywer en sy politieke bondgenote aanhou om amptelike feite, wat behoorlik nagevors is, te ignoreer – soos die verslag van die provinsiale regering en nasionale tesourie oor hierdie onderwerp, aangehaal deur die finansiële hoof van die munisipaliteit – hoe kan ons die leke glo wat feite eensydig verdraai en dit boonop as “geloofwaardig” aanbied? Sulke berigte saai net verwarring en verdeeldheid en ons sal nie graag verder daarop wil uitbrei nie.
Natuurlik is dit nodig vir die onderskeie “waghondorganisasies” in die omgewing om feite te bevraagteken, na te gaan en te bevestig, en ons sal dit aanmoedig solank dit eerlik en sonder bymotiewe aangebied word.
Gemeet aan die oorwig van feite wat weer eens hier duidelik geïgnoreer word, is ons mening dat die plaaslike munisipaliteit uitstekend vaar onder uitdagende omstandighede.
Wil sulke kommentators regtig in ons mooi stad woon, of is hulle net van verbygaande aard?




