In sy jongste nuusbrief prys die Drakenstein-munisipaliteit sy munisipale hof in die Paarl vir vordering wat gemaak is sedert die hof se totstandkoming in Desember 2022.

Daar word omtrent gespog met die getal sake wat sedertdien op die rol geplaas is en gevolglike inkomste wat daardeur vir die munisipaliteit ingevorder is.

Mens kan dus egter nie help om tussen die lyne te lees en die eintlike doel van hierdie hof te bevraagteken nie. Is sy doel om inkomste vir die munisipaliteit te genereer? Of is dit daar om dispute en geskille oor die beweerde oortredings van munisipale wetgewing op ’n meer konstruktiewe manier uit te stryk?

Aan die ander kant moet daar ook gekyk word na wat die aard van die beweerde oortredings was. Was dit verkeersboetes of bure wat koppe gestamp het? Of het die munisipaliteit die mandaat van hierdie hof gebruik om voortslepende probleme soos vervalle geboue (veral staatsgeboue), onwettige storting en ander omgewingskwessies aan te spreek?

Dis duidelik dat die hof sy doel goed vervul, maar dit kan gerus aangewend word om ook dié netelige oortredings vas te vat. Gebruik die hof se mandaat om op ernstiger oortredings te fokus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article