“Kan antie my wys hoe om ’n tie te strik ’seblief?” Só vra ’n elfjarige seun my onlangs. Toe hy met sy das voor my staan en wag dat ek hom moet help, het daar soos male sonder tal vantevore, duisende vrae in my hart kom lê.

Hoekom besef ouers nie hul verantwoordelikheid teenoor hul kinders nie? Hoe kan ouers met hul lewe aangaan – soms met hul kinders in dieselfde huis – maar hulle as ouers is eenvoudig net afwesig?

Hulle is net te besig met wat ook al hulle belangriker ag as hul kinders wat God aan hulle toevertrou het. Waar’s die pappas wat hul seuns moet leer om ’n das te knoop? Hoe sal sy seun sien hoe hy as voorbeeld ’n vrou hanteer en vir haar omgee sodat hulle eendag sal weet hoe om op te tree? Hoe kan ’n ma haar kind vergeet?

Dit bly hartverskeurend – en kommerwekkend – om te sien en te ervaar hoe baie ouers glad nie omgee oor hul kinders nie, solank hulle nice times kan hê. En dan kom net nog ’n kleintjie, en nog een . . .

Ek luister baie na kinders se taalgebruik en hoe hulle die vieslikste woorde vir mekaar sê en mekaar afkraak, en ek besef dis waaraan hulle gewoond is. Vir hulle is dit normaal. Hoe het ons as volwassenes nie ons kinders gefaal nie?

Dalk nie met jou eie kroos nie, maar staan ons nog stil by ’n kind wat ons sien of hoor besig is om die pad byster te raak? Praat ons met so ’n kind, al is dit nie ons eie nie? Is jóú?? kind nog mý kind? Kyk ons nog uit vir mekaar of ander se kinders?

Ek besef maar alte goed tye is nie meer dieselfde nie, maar kan ons regtig ons oë en ore toemaak?

Kan ons?

Ek weet “kinners was nog kinners toe ons nog kinners was” en ’n mens moet vandag ekstra versigtig wees wat jy aan iemand anders se kind of kinders sê en doen – al is dit net om te help – maar kan ons dit nie omkeer nie?

Kan elkeen van ons nie ten minste één kind identifiseer wat jy besluit om aan die hand te vat nie?

’n Vriend van my het gesê hy wil so graag ’n kind help, al is dit dan nou net om skryfbehoeftes of ’n paar skoolskoene of so iets te koop.

’n Ander vriend het al oor die jare sy huis voor en tydens eksamentyd aan tientalle kinders beskikbaar gestel sodat leerders en studente voor en tydens eksamens kan studeer. Van hulle is vandag in verskillende professionele beroepe, omdat iemand hul behoeftes gesien en iets daaraan gedoen het.

Dalk het ek en jy nie baie om te bied nie. Sommige het dalk nie geld of tyd nie, maar sommige kinders het dalk slegs ’n oor nodig, want niemand luister na hulle by die huis nie.

Jy kan dalk nie ’n kind finansieel ondersteun nie, maar jy het dalk kontakte wat kan help.

Meisies het nodig dat iemand vir hulle sê ’n mens loop nie met nagklere in die straat nie. So ook nie met ‘n swirl-kous of rollers nie. Ook dat jy nie moet toelaat dat jou boyfriend daai eerste hou gee nie, al dink jy nou dit is net speel-speel.

Dis nodig dat seuns geleer word wanneer ’n meisie “nee” sê, moet dit gerespekteer word. Kinders het nodig dat hulle herinner word dat dit niks kos om te groet nie (dalk ’n hele klomp grootmense ook!) en ook om dankie en asseblief te sê en ouer mense te respekteer. Dit is basiese dinge wat hulle dalk nie by die huis leer nie – of iets eenvoudigs soos om ’n kind te leer om ’n das te knoop.

Kan jy dink aan iets wat jy vir ’n kind kan doen of beteken? Dit is my hartewens dat ons weer begin uitkyk vir ander se kinders. Dalk gaan hulle kwaad word as dit ’n geval is waar hulle berispe word, maar as ons dit met liefde doen, sal dit goed ontvang word en ons kan verseker wees al dink ons dit help nie nou nie, is die saadjie ten minste gesaai.

Dalk is daar een kind wat net wag dat jy sy of haar mentor kan wees – leiding kan gee of sommer net daar kan wees.

Waar pappas afwesig is, verander ’n kind se omstandighede en lewensuitkyk wanneer iemand ’n pa-rol vertolk.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article