Ek was verlede week geskok om die absoluut arrogante houding van die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapdienste, Faarieg Rhoda, te lees ná die verskriklike aanval van ’n bejaarde man in die Arboretum: “Die munisipaliteit is nie verantwoordelik vir die publiek se veiligheid nie!”
Die Arboretum is ’n munisipale gebied en behoort dus deur die munisipaliteit beveilig te word. ’n Paar jaar terug het die munisipaliteit beloof om die boompark beter te bestuur deur aan-diens-vredesbeamptes en toeristemonitors by die Arboretum aan te bring asook ’n mobiele kantoor vir hierdie beamptes.
Hiervan het niks gekom nie; daar sit en slaap net nou en dan een of twee mense in die kantoortjie by die hoofingang. Wat doen hulle en waarvoor word hulle betaal?
As jare lange liefhebber van die Arboretum besoek ek en my gesin die gebied gereeld en dis ’n skande hoe verwaarloos die park nou is en hoe dit oorval is deur boemelaars wat daar uitkamp en hul gemors agterlaat.
Ek wonder of die Duitse munisipaliteit wat etlike miljoen rande na die munisipaliteit gegooi het, weet in watter swak toestand die Arboretum is? Ek dink dit is hoog tyd dat hulle hieroor ingelig word – ook oor die arrogante houding van die munisipaliteit. Die boodskap wat hulle uitstuur, is eenvoudig – ons gee nie ’n duit om vir die publiek nie.
Wonder ook dus wie die swape is wat die Drakenstein-munisipaliteit as een van die topmunisipaliteite aangewys het – dit is eenvoudig so: Bo blink, maar binne stink. Die bokant is egter ook nie meer so blink nie.




