Ryan Jordaan van Warriors (regs) stamp ’n speler van Wesbank 1 af in een van die groepwedstryde van Evergreens se 7’s- rugbytoernooi. Foto: Ernest Kilowan



Die Warriors-kraai het in die 7’s-toernooi op Evergreenspark in die Paarl koning gekraai.

Die span van die Paarl het Saterdag (22 Januarie) min moeite ondervind om Zakhai Kings van Wellington 28-0 in die eindstryd van die vyfde Hillies–sewestoernooi te klop. Goeie kommunikasie en karakter deur die Paarliete het verhoed dat Zakhai die doellyn oorsteek. Nadat die kwik tot meer as 40 °C in die Paarl gestyg het, het meer as 300 toeskouers en tien spanne die hitte trotseer.

Warriors Paarl is in die halfeindronde deur die gasheer, Hillcrest United, tot ekstra tyd gedwing, maar die blitsige Renaldo “Naledi“ Young het seker gemaak sy span stap met die prysgeld van R8 000 weg. Naledi is ook welverdiend as speler van die toernooi aangewys en spog met tien drieë en prysgeld van R500.

Young het ook gewys daar is geen plaasvervanger vir spoed in die verkorte weergawe van die spel nie en telkemale sy teenstanders die hakskene gewys.

Naledi het in die eindstryd altesaam 12 punte vir die Warriors aangeteken. Die span van Zakhai (naaswenner) kon darem R3 500 by hul bankbalans voeg.

Rugby het weer eens geseëvier met spanne wat mekaar behoorlik laat les opsê het. Die wedstryde was vol aksie en opwinding, en het gewys dat sewesrugby in die Boland en WP gewis groei.

Die tien deelnemende spanne was: Hillcrest United, Warriors, Zakhai Kings, Hands & Hearts, Ubuntu, Wesbank 1, Wesbank 2, Moorreesburg, Vinyards Paarl en Darling Rfc.

Volgens Jovan-re Cupido, die toernooi-direkteur, is hy tevrede met die verloop van die toernooi en hy het die dapper toeskouers, spanne, Hillcrest-buurtwag, skeidsregters van die Boland, DJ en die Hillcrest-bestuur vir hul bydrae bedank.. Die puntemakers in die eindstryd was: Warriors (28) – drieë: Xavier Mitchell, Ryan Jordaan, Renaldo Young (2). Doelskoppe: Mitchell, Jordaan (2), Young.

Zakhai Kings het 0 gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article