Die Suid-Afrikaanse vlag wapper vanjaar met trots hoog by die Statebondspele in Birmingham saam met die Paarliet en hokkieskeidsregter Wanri Venter.
Venter is as hokkieskeidsregter by dié internasionale sportbyeenkoms gekies. Dit is ’n groot eer vir haar om wedstryde op só ’n groot vlak te blaas. Die Statebondspele het verlede Donderdag (28 Julie) begin en duur tot Maandag (8 Augustus).
“Dit is ’n ongelooflike eer om vir hierdie groot toernooie gekies te word. Ek is regtig geseënd en sien daarna uit om saam met die beste groep skeidsregters in die wêreld te werk. Hierdie geleentheid wys my dat al die harde werk, opofferings en vroeë oggendure se oefening die moeite werd was.”
Haar liefde vir hokkie en haar ongelooflike reis met dié sport het ontstaan toe sy in graad 8 self begin hokkie speel het. Deur die jare het sy baie harde werk en tyd in haar spel as hokkiespeler ingeploeg. Volgens Venter was sy gelukkig om vir die vrouespanne van Maties, Westelike Provinsie en KwaZulu-Natal te speel. Op skool het sy die Boland-streek verteenwoordig.
Venter rig deesdae al langer as 20 jaar hokkie op skole- en provinsiale vlak af. Sy is betrokke by die Hoër Meisieskool La Rochelle, waar sy as die hoof van hokkie, tennis en groen-projekte asook hokkieafrigter dien.
“Ek is geseënd om saam met ’n ongelooflike skoolhoof en groep onderwyseresse te werk. Dit is regtig ’n skool met ’n groot hart en ’n plek waar elke leerder ten volle kan ontwikkel,” sê sy. Vir haar is dit nie altyd maklik om ’n skeidsregter te wees nie, maar sy moedig jongmense wat dit graag wil doen, aan om voort te gaan.
“Dit is nooit maklik om die skeidsregter te wees nie. Een span sal altyd verloor, en dit is maklik om die skuld op jou te plaas. Jy speel ’n groot rol op die veld, maar die wedstryd gaan nie oor jou nie. Jy is daar om te verseker dat die spel vloei en almal op die veld veilig is. Bou verhoudings met die spelers en wees eerlik oor jou foute. As ’n hokkieskeidsregter gaan jy nie alles op die veld sien nie, maar werk hard daaraan om altyd in die regte posisie te wees. Gee altyd net jou beste en geniet elke oomblik. Maak soveel vriende as moontlik in die hokkie-wêreld en vier ander se sukses saam met hulle. Wanneer jy na ’n wedstryd kyk, ondersteun die skeidsregters op die veld. Moenie hulle kritiseer nie, want almal probeer net hul beste. Fiksheid is belangrik, so, werk hard en stel haalbare doelwitte. As jy op die veld is, vertrou jou instinkte en werk hard om te verseker dat jou liggaamstaal positief en kalm lyk.”. The South African flag flies proudly this year at the Commonwealth Games in Birmingham, together with the Paarlite and hockey referee Wanri Venter.





