Die toekoms van die vallei se amptelike argief, die Drakenstein Heemkring (DHK), is in die gedrang nadat die Drakenstein-munisipaliteit hom die trekpas gegee het uit sy jare lange tuiste by De Oude Woning (op die hoek van Hoof- en Auretstraat in die Paarl).
Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n skrywe aan die DHK gerig waarin hy die DHK in kennis gestel het dat hul vaste huurooreenkoms verstryk het en die huur sal op ’n maand-tot-maand-basis voortgesit word. Maar onlangs is hy weer in kennis gestel dat hy vroeg in 2024 sal moet padgee uit De Oude Woning om plek te maak vir munisipale amptenare wat die historiese gebou voorts as kantore sal gebruik.
Toevallig het die destydse munisipaliteit in die 1980’s die gebou na sy oorspronklike voorkoms van 1784 gerestoureer, spesifiek sodat dit deur die Heemkring as dorps-argief gebruik kon word.
’n Nuwe bestuur is op die algemene jaarvergadering van die DHK verkies.
Paul le Roux is as voorsitter verkies en die ander bestuurslede is Johan Malherbe, vise-voorsitter; Len Raymond, tesourier; en Kevin Aspeling, sekretaris.
Malherbe is ’n bekende argitek en bewaringspraktisyn en het onlangs ’n oorkonde van CIfA (Cape Institute for Architecture) vir sy ontwerp van nuwe aanbouings by La Motte se bakkery ontvang. Hy is ook voorsitter van die Paarl 300-stigting.
Raymond het geen bekendstelling nodig in die bewaringsgeledere van die vallei nie en het in verskeie komitees en rade gedien, waaronder die Drakenstein-erfenisstigting en Heritage Western Cape.
Roux se belangstelling is aangevuur deur familiegeskiedenis en hy dien in onder meer die besture van die Hugenote-vereniging van SA en die Wes-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van SA.
“Johan Malherbe en ek het met Seraj Johaar van die munisipaliteit vergader. Hoewel die munisipaliteit die waarde van ’n instelling soos die DHK besef, is sy gevoel dat ons die perseel onderbenut en hy wil dit meer produktief aanwend. Hy het egter onderneem om uitstel te gee en vroeër die week is ons amptelik ingelig uitstel is tot einde Februarie 2024 verleen.”
Die DHK is ’n vereniging vrywilligers wat in die bewaring van die kultuurgeskiedenis van die Bo-Bergriviervallei belangstel. Die stigtersgees agter die DHK was wyle WA (“Bill”) de Klerk, ’n bekende skrywer wat veral in die geskiedenis van Daljosafat, met sy noue verbintenis met die ontstaan van Afrikaans, belanggestel het.
Die DHK het oor die jare ’n plaaslike argief opgebou van inligting oor die vallei en meer spesifiek die families, geboue en plase. Dit beskik ook oor ’n naslaan-biblioteek.
Die DHK se bekendste aanwins is vir seker die Gribble-fotoversameling wat die tydperk van die 1870’s tot en met 1940 dek. Hierdie versameling is aan die DHK bemaak deur wyle Harold Gribble. James Gribble het in die 1860’s uit Cornwall na Suid-Afrika geïmmigreer en hom in die Paarl gevestig, waar hy ’n foto-ateljee bedryf het. Die onderneming is deur sy seun, James II, en kleinseun, Harold, voortgesit. Die meeste van hierdie foto’s is gedigitaliseer en kan by DHK besigtig word. Die versameling is merendeels soekbaar.
Die DHK se versameling is die kulturele erfgoed van die vallei, en hy tree op as bewaarders van hierdie erfenis, maar is nie die eienaars daarvan nie.
Op hede is die bestuur aan die besin oor hoe om die versameling te bewaar. Hulle is in gesprek met verskeie mense, maar wag nog op terugvoer en het dus nog geen finale plan nie.
Dit is vir hulle uiters belangrik dat die versameling in die Paarl bly en ook toeganklik bly vir die breë publiek.
Soos met menige instellings soos hierdie is die DHK se twee grootste struikelblokke ledetalle en finansiering.
Dit is genoop om in die laaste paar jaar slegs op ’n Woensdagoggend tussen 10:00 en 12:00 oop te wees vir die publiek, aangesien sy lede, wat diens doen by De Oude Woning, almal vrywilligers is wat hul tyd opoffer sonder dat hulle enigsins daarvoor vergoed word.
Die nuwe bestuur het egter hierdie tydgleuf as problematies geïdentifiseer omrede dit nie werkende mense en leerders pas nie.
Hulle het dus besluit om as ’n proeflopie tussen 16:00 en 18:00 op Dinsdae en Donderdae ook oop te wees.
’n Tweede struikelblok is geld. Die DHK se enigste bron van inkomste is tans ledegeld (R100 per jaar) en skenkings. Hy verskaf ook digitale afskrifte van foto’s teen ’n nominale fooi. Maar die maandelikse uitgawes beloop steeds meer as die inkomste en sy karige reserwes word uitgeput.
Die groot vraag is “quo vadis” – waar staan ons?
Die lede en bestuur van die DHK is dit eens dat hulle nie moet toemaak nie.
Ook is die gevoel van lede van die publiek met wie hulle in gesprek is, dat die Heemkring moet voortbestaan.
Daar is ’n paar planne vir die toekoms, wat insluit:. Om langer ure oop te wees en dus meer toeganklik te wees.. Om sy versameling te digitaliseer sodat dit meer toeganklik kan wees vir navorsers.. Om kursusse aan te bied. Hier het ’n bekende genealoog al onderneem om ’n inleidende kursus oor familiegeskiedenis aan te bied, waarskynlik kwartaalliks op ’n Saterdag.. Om lesings oor verskillende aspekte van die geskiedenis van die vallei aan te bied.. Om met soortgelyke organisasies te skakel.. Die DHK het in die verlede van tyd tot tyd ’n nuusbrief uitgegee. Hy sal dit graag weer op die been wil bring sodat hy belangstellendes op hoogte kan hou van sy aktiwiteite. Hier sal hy ook skakeling met die media wou bewerkstellig.. Om met plaaslike skole te skakel. Tans doen leerders in gr. 4 ’n lewensvaardigheidstaak oor plaaslike geskiedenis. Ouers kom klop dikwels dan by die DHK aan vir inligting vir hul kinders se take. Hy help graag, maar sou die publiek nog meer bewus wou maak van die beskikbaarheid van sy inligting.. Nuwe lede moet dringend gewerf word. Die DHK is oop vir enigeen wat in sy doelwitte belangstel. Dit is nie ’n eksklusiewe organisasie nie. Die meeste van die lede het aangesluit uit belangstelling, met min kennis oor die vakgebiede, en het oor die jare heen hul kennis opgebou. In ons gejaagde samelewing is daar egter baie mense wie se voorneme is om by organisasies aan te sluit, maar wat net nooit die tyd daarvoor kry nie.
Die swaard van Damokles, wat dus tans oor die kop van DHK hang, is: Waarheen verhuis hy nou sodat hy sy baie belangrike missie kan nastreef?. Belangstellendes kan Paul le Roux kontak by paulleroux26@gmail.com vir lidmaatskap en verdere inligting.





