Ons as bestuurskole van die Paarl word deur die Drakenstein-munisipaliteit afgeskeep.
Destyds kon ons by die Dal Josafat-toetssentrum met ons leerling-bestuurders oefen, maar volgens die een of ander nuwe stupid wetgewing het die munisipaliteit dit gestop en ons die munisipale terrein belet.
Ons is met nie veel keuses gelaat nie en sukkel al jare om ’n ordentlike plek te kry om ons leerders te laat oefen.
Maar in Wellington gaan bestuurskole daar nog voort om op munisipale terreine te oefen – dit wil sê die gebied tussen die Wellingtonse brandweerstasie en verkeersafdeling – munisipale grond.
Daar is ’n hek daar wat veronderstel is om gesluit te wees, maar dit word oopgelos en Wellingtonse bestuurskole trek voordeel hieruit. Toe ons as Paarlse bestuurskole eenkeer daar probeer oefen het, is ons van die perseel af verjaag.
Dit is mos nie reg om voorkeur te gee aan een segment van Drakenstein en dan die ander segment te benadeel nie.
Om ’n lang storie kort te maak – wanneer gaan die munisipaliteit vir ons almal ’n geskikte perseel beskikbaar stel waar ons ons leerlingbestuurders kan laat oefen?




