Die konsepbegroting van die Drakenstein-munisipaliteit is onlangs ter tafel gelê, en hoewel inwoners nou al behoort te weet dat tariefverhogings jaarliks toegepas word, bly dit maar ’n groot skok as jy eers sien hoe dit jou sak gaan raak.

Die voorgestelde tarief vir elektrisiteit is die hoogste voorgestelde verhoging van almal – 18,02% teenoor die vorige boekjaar se 7,71%.

Met Nersa (die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika) wat onlangs ’n tariefverhoging van 18,49% aan Eskom toegestaan het, kon ’n mens seker dié groot sprong verwag het, maar dit maak dit nie makliker om te aanvaar nie – veral nie omdat Eskom se voortslepende beurtkrag inwoners byna daagliks sonder elektrisiteit laat nie.

Buiten die elektrisiteit word tariefverhogings vir water, sanitasie, eiendomsbelasting en vullisverwydering voorgestel (berig op bl. 2).

Met die huidige ekonomiese druk, kan jy nie anders as om te wonder waar die geld vandaan gaan kom om al die stygende uitgawes te dek nie.

Kospryse en die brandstofprys styg gereeld. Hoe kan jy ’n regmerkie langs al die “moet betaal”-items op jou lys maak en hoe kan ’n bietjie geld oorbly om te spaar vir wanneer die nood druk en aan jou deur klop?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article