Was jy al ooit in ’n geselskap waar jy agterna gewens het dat jy maar liefs die ander pad geloop het? Ek praat van daai geselskappe waar alle ander mense behalwe jyself die middelpunt van bespreking is. Daai lostong-geselskappe, of platweg gestel – die skinder-mafia.

Dis eintlik nogal bietjie snaaks as ek nou so daaraan dink, want dis ongelooflik hoe daar in detail oor die mens of mense geklets kan word. Die meerderheid van die sodanige inligting is gebaseer op hoorsê. Voor dit nou klink asof ek van my troontjie na die onderwerp kyk, wil ek jou darem net gerusstel – ek was al in my leeftyd in ’n paar sulke scenario’s. Ook maar goed so, want dit het my uitkyk op die lewe drasties beïnvloed. In so ’n mate dat ek kies om nie deel van sodanige geselskappe te wees nie.

Maak dit van jou die mens wat hom beter as ander wil hou of met sy kop in die lug leef en nie tred hou met die werklikheid om ons nie? Nee, glad nie. Dis ’n geval van jou bronne reg kies vir die inligting wat jy benodig. En natuurlik om seker te maak dat daardie inligting deur genoegsame feite gestaaf kan word, want die teendeel daarvan is en bly net ’n ou skinderstorie.

Wat my die meeste pla oor die spesifieke onderwerp, is dat ons manlike spesie onsself so skuldig maak aan hierdie slegte ou gewoonte. En daarvoor gril ek my morsdood. Nee, sies man, die hele skinderbesigheid pas nou maar eenmaal net nie by jou nie. En die feit is dat party van ons manne soms die grootste deel van hul dag aan hierdie aktiwiteit afstaan, maar terselfdertyd maar sku is om die pot aan die kook te hou by die huis. Moenie ’n fout maak nie, ek is intens bewus daarvan dat ’n skinderstorie soms darem die saai kant van die lewe so ’n bietjie kan optower en partykeer kan sorg vir ’n heerlike uitbundige lag hier en daar. Dis egter die kere dat daardie ou gewoonte toksies begin raak dat jy met ’n probleem sit.

Gaan loer maar so ’n bietjie in ons gemeenskappe na die nagevolge van skinderstories. Families en gesinne is vir weke, maande en selfs jare vir mekaar kwaad oor ’n skinderstorie. Om nie eens te praat van hoe hierdie prentjie in kerke daar uitsien nie. Die een plek waar ’n mens darem hoop jy die vuurtonge van die wêreld gespaar sal wees. Dis somtyds juis die rede waarom mense uiteindelik wegbreek van die kerk en baie kere selfs hul geloof opgee, want die jongste skinderstorie het hul menswees tot in sy fondasies verwoes.

Op ’n ligter noot het ek soms die gewoonte gehad om by ’n paar strategiese mense op strategiese punte uit te kom as ek enigsins die behoefte het om bietjie te hoor waar so en so nog laas gesien is en wat gebeur het sedert ons nog laas kontak gehad het. En daai inligting vat ek maar met ’n knypie sout, want van beter weet ek wel – en dis om eerstehands met ’n person kontak te maak en daardie einste inligting te bekom. Ek moet darem eerlik byvoeg dat dit deesdae glad nie meer ’n behoefte by my is om daai inligting tweedehands te ontvang nie. Ek wag maar eerder my beurt af vir ’n lekker kuiertjie saam met die persoon wat ek dalk vir jare nie met ’n oog gesien het nie. Jy sien, dieselfde mense wat ons baie kere beskinder, doen maklik dieselfde van en oor ons, en so word dit net een bose kringloop. Ag nee wat, ons land het oorgenoeg skindermateriaal op nasionale vlak dat jy nog jou broer en suster in die gemeenskap moet sit en beskinder.

Of ’n mens die ou nare gewoonte by my mense sal kan stop, betwyfel ek sterk, want dis ’n gewoonte so oud soos die liewe Heer se genade.

Wat my egter dit laat waag om myself daaroor uit te spreek, het te doen met die nagevolge wat ek eerstehands aanskou het – veral in die werksplek. Genugtig weet, dit word by party werksplekke letterlik die kultuur van daardie organisasie of instansie. Mense begin floreer op hoorsê of skinder en breek so die etos van die organisasie stukkie vir stukkie af.

Daai skinderstories vergiftig verhoudinge onder kollegas en voor jy jou kom kry, word al die goeie en mooi bedoelings vir watter eerbare saak ook al by die voordeur uitgesmyt en ploeter mense voort met skynbare opregtheid vir die saak en aard van hul werk.

Kan jy jou indink wat dit aan die produktiwiteit van ’n span kan doen? Beslis nie die moeite werd as jy my vra nie. Die alternatief, wil ek my verstout om te sê, is eenvoudig. Waak oor daai mond van jou.

Hou op om jou te bemoei met ander mense se sake. Doen ’n bietjie introspeksie en jy sal agterkom dat ek en jy oorgenoeg van ons eie sake het wat ons dringende aandag benodig.

Nee man, laat staan jou fietna-geite!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article