Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) spog dat hy 99% van die leerders wat aansoek gedoen het om vanjaar met gr. 1 en gr. 8 te begin by skole oor die provinsie heen geplaas het.
“Vanaf 20 Desember 2022 het ons 111 616, of 99 %, van die gr. 1- en gr. 8-leerders vir die 2023-skooljaar geplaas, en is besig om 680, of 1%, van die gr. 1- en gr. 8-leerders vir die 2023-skooljaar te plaas. Dit is ’n massiewe verbetering van vorige jare, aangesien ons 50 160 meer gr. 1- en gr. 8-leerders geplaas het as verlede jaar hierdie tyd,” sê Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD.
“Ons bou tans 842 bykomende klaskamers vir die 2023-skooljaar wat minstens 26 000 plekke vir leerders in die provinsie sal skep. Dit is ’n ongekende bouprogram. Ons bou die ekwivalent van een skool elke vier dae, of gemiddeld agt klasse per dag, om in die behoefte te voorsien. Ons stel ook vanjaar tot 1 143 bykomende onderwysers in die stelsel aan.”
Sy sê hulle verwag dat daar nog laat aansoeke vir plasing ingedien sal word.
“Ons sal egter geen steen onaangeroer laat nie, aangesien ons poog om alle leerders so gou moontlik te plaas. Deur laat aansoek te doen loop ouers egter die risiko om te wag, terwyl ons hul kind plaas met inagneming van hul graad, die area waarin hulle woon, hul leertaal en vakke (in sommige gevalle). Baie faktore is betrokke by die plasing van leerders.”
Verder moedig die departement ouers, wie se kinders gr. 1 en gr. 8 vanjaar moet begin, aan om so gou moontlik kontak te maak met hul distrikskantoor. Dit sluit in ouers wat vroegtydig aansoek gedoen het, maar wie se kinders nog nie by ’n skool geplaas is nie.
Die volgende mense by die Kaapse Wynland-onderwysdistrikskantoor kan gekontak word om ouers deur die proses by te staan.
Kontak Jean-Claude Frolicks by 023 348 0613 of Jean-Claude.Frolicks@westerncape.gov.za en Kevin van Eeden by 023 348 0635 of Kevin.VanEeden@westerncape.gov.za.
- The Western Cape Education Department (WCED) boasts that they have placed 99% of the learners who applied to start Grade 1 and Grade 8 this year in various schools across the province.




