’n Jaagtog agter vyf voortvlugtiges aan het die afgelope naweek tot inhegtenisnemings in verband met ’n gewapende rooftog by ’n sakeperseel by ’n informele spaza-winkel in Groendal, Franschhoek, gelei.
Kol. Frederick Rossouw, die stasiebevelvoerder van die Franschhoek-polisie, bevestig die rowers het Sondag om 17:15 by dié winkel, wat deur Bangladesjers bedryf word, ingeloop.
“Twee verdagtes het hulle as klante voorgedoen. Een het ’n vuurwapen op die winkelbestuurder gerig. Die agenda van dié soort rooftogte teiken gewoonlik geld, sigarette en in sommige gevalle steel hulle ook selfone en elektroniese masjiene vir lugtyd, elektrisiteit of al twee,” sê Rossouw.
Die verdagtes het vandaar in ’n voertuig, wat onbekend in die omgewing is, op die vlug geslaan.
Volgens inligting van ’n betroubare bron het ’n jaagtog na die verdagte voertuig posgevat toe dit deur private veiligheidswagte in die Helshoogte-omgewing gewaar is.
Die Franschhoek-, Stellenbosch- en Paarl-polisie is oor die jaagtog ingelig en ’n gesamentlike poging om die boewe vas te trek, het gevolg.
Rossouw sê “altesaam vyf verdagtes is in Stellenbosch in hegtenis geneem. Geld en twee vuurwapens is by hulle gevind, en die polisie het daarop en die voertuig beslag gelê.”
Hy sê dié geval getuig van die sukses wat behaal kan word wanneer verskeie polisiekantore en ander veiligheidsmagte saamwerk.
Five suspects were caught following a business robbery in the Groendal area in Franschhoek. Two armed men entered the shop and pointed the shop attendant with a firearm before fleeing with cash in Helshoogte direction. Security forces and multiple police stations gave chase to the getaway vehicle and successfully arrested the suspects and confiscated goods, two firearms and the vehicle.




