Hierdie Vrydag- en Saterdagaand kan inwoners uitsien na goeie vermaak by die Bôrdienghuis-teater in Wellington.
Vrydag 9 Junie om 19:00 is The Generation Gaps op die planke.
Dié vier bekende musikante kén mekaar, musiek en mense en daarin lê The Generation Gaps se sukses.
Bram Potgieter op klawers is ’n legende in jazz-kringe met meer as 35 jaar in die bedryf. Wesley Rustin laat ’n kontrabas sing en dans soos niemand anders nie. Petrus de Beer is een van die veelsydigste violiste in die land en Hanna se stem en stories maak The Generation Gaps ’n moet sien.
Hul optredes word beskryf as kreatief, eerlik, soms skreeusnaaks en diep ontroerend.
Kaartjies is R200 per persoon.
. Saterdag 10 Mei om 18:00 kan teatergangers uitsien na ’n optrede deur Michael Lindt, een van die land se talentvolle sangers en liedjieskrywers.
Met liedjies soos “Is jy nie meer lief vir my?” en “Elke wolk het ’n silwer rand”, wat onderskeidelik nommer een en twee op RSG en Jacaranda FM behaal het, bied Michael ’n vertoning wat sy gehoor sal vermaak met treffers van sy gewildste albums.
Hy skryf ook liedjies vir die land se bekendste sangers en hy spog met liedjies wat ook in die buiteland bekendheid gewerf het.
Michael betrek sy hele gehoor deur hulle te vermaak met spesiale versoeke van liedjies uit die 70’s en 80’s, asook met country-legendes. Met genres wat strek van rock, pop, country tot gospel is hierdie ’n vertoning wat jy nie kan misloop nie.
Kaartjies kos 120 per persoon.
Kaartjie na beide vertonings kan bespreek word by Jeanine by 061 156 5386.



