Roché Fortuin (28).Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

“Die emosies het Woensdagmiddag ná die vurkhyser-fratsongeluk hoog geloop. Die polisie op toneel by die KWV-perseel het wel daarin geslaag om die bystanders en familie se gemoedere te bedaar.”

Só beskryf kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, die nasleep van die vurkhyser-tragedie by KWV verlede week.

Du Plessis het bevestig die 28-jarige Roché Fortuin het in die voorval gesterf.

“Nie die slagoffer óf die operateur van die vurkhyser was bewus van die komende gevaar wat tot haar dood gelei het nie.”

Du Plessis sê dit blyk die bestuurder van die vurkhyser het eers die masjien tot stilstand gebring nadat hy besef het hy het iets getref.

“Hy het eers toe hy afgeklim het om ondersoek in te stel besef die vurkhyser staan bo-op die slagoffer. Hy het op die toneel nog aan vreeslike skok gely.”

Du Plessis sê die operateur van die vurkhyser was só getraumatiseer dat hy dringende behandeling in die hospitaal moes ontvang.

Die KWV het in ’n amptelike persverklaring bevestig “ ’n vroulike werker van ’n derdeparty-verskaffer is kort ná 11:30 deur ’n vurkhyser omgery”.

“Ons verstaan die slagoffer het kort ná die impak weens haar beserings beswyk. Dit is bevestig toe die perseel-verpleegster, wat vinnig op die toneel was, geen polsslag by die slagoffer kon bespeur nie,” lui die verklaring.

Nooddienswerkers was ook vinnig op die terrein en het haar dood verklaar.

Alle ander operasionele aktiwiteite is vir die res van die dag gestaak en die personeel is huis toe gestuur.

“Ons sal verseker dat die nabye familielede van die slagoffer die nodige ondersteuning ontvang, sowel as die KWV-werknemer wat die vurkhyser bestuur het.”

Verskeie pogings deur Paarl Post om naasbestaandes van Fortuin te kontak, was onsuksesvol. Sy was van Paarl-Oos en word deur haar lewensmaat en twee kinders oorleef.

Beriggewing oor haar dood het wel hope medelye van die wyer Paarl- en Wellington-gemeenskappe op Facebook gelok.

So sad . . . sy het altyd die mooiste glimlag gehad. Sterkte aan die familie en haar kollegas,” het een vrou se kommentaar gelui.

KWV sê die ongeluk sal met hul volle ondersteuning deur die polisie en die departement van arbeid ondersoek word.

’n Gedenkdiens is Dinsdag deur Fortuin se werkgewer op die KWV-perseel gehou om haar nagedagtenis tydens die samesyn van haar kollegas en familie te eerbiedig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article