Billy Claassen en Rita Andreas tydens ’n meningsverskil by Vrydag (15 Maart) se openbare sitting oor die Bela-wetsontwerp. Foto: Skermgreep/ EJ Breakingnews/ Facebook


’n Openbare sitting om die omstrede Bela-wetsontwerp te bespreek, het die afgelope Vrydag (15 Maart) in die Paarl plaasgevind, met honderde Drakenstein-inwoners en politieke partye wat in die Hugenote-saal in Paarl-Oos bymekaar gekom het.

Die vuiste het ook behoorlik geklap toe Billy Claassen, lid van die politieke party People’s Movement for Change (PMC) en voorsitter van die Rural and Farmworkers Development Organisation, nie net kapsie teen die ANC gemaak het oor die voorgestelde wetsontwerp nie, maar ook teen die DA, en spesifiek Rita Andreas, die Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van menslike nedersettings.

In ’n telefoongesprek met Claassen het hy aan die Paarl Post beweer dat Andreas uitsettingsbevele aan “plaasmense,” of te wel bruin gemeenskappe, toedien – volgens hom aan mense wat geen ander heenkome het nie.

Hierdie aanmerking is wel buite die konteks van die Bela-wetsontwerp gemaak, maar is volgens hom steeds ’n belangrike kwessie.

Ná Claassen se aanmerking het Andreas uit haar stoel opgestaan en Claassen uitgedaag deur onder meer vinger na hom te wys, waarna talle ander ondersteuners van die DA Andreas ondersteun en Claassen met hul teenkanting gedwing het om sy spreekbeurt te laat vaar.

Sommige DA-ondersteuners het ook fisiek geraak en aan Claassen se klere getrek.

Deidre Baartman, DA-woordvoerder oor onderwys en voorsitter van die staande komitee oor onderwys van die Wes-Kaapse wetgewer, moes die sitting tot orde roep voordat die polisie ingetree het.

Volgens Baatman was hierdie ’n insident ’n poging om die “openbare deelnameproses van die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement te ontspoor deur geweld te gebruik”.

“Hierdie wet behoort in die asblik, soos die ANC in die museum behoort,” het Claassen tydens sy spreekbeurt gesê.

Buiten Claassen, wat verduidelik het dat die PMC die wetsontwerp as geheel verwerp, het Bazil Jacobs, ’n Concerned Drakenstein Residents (CDR)-raadslid, gesê dat dié politieke party ook die wet teenstaan.

CDR se grootste besware is dat die staat sal bepaal watter onderrigtaal en toegangsbeleid ’n skool moet handhaaf, eerder as die beheerliggaam soos dit tans geskied, asook die feit dat daar geslagsneutrale badkamers sal wees om leerders wat as nie-binêr identifiseer, te akkommodeer.

Verder teken die CDR daarteen beswaar aan om tuisonderrig as onwettig te verklaar, asook om ouers wat nie hul kinders in hoofstroom-skole inskryf nie, strafregtelik te vervolg.

“Kinders so jonk as ses gaan ook seksonderrig ontvang, wat grafies kan wees,” sê Jacobs voorts.

Nóg ’n beswaar deur die CDR is dat onderwysers gedwing sal word, volgens klousule 39, om minderjarige meisies ouer as 12 aan te moedig om aborsies te ondergaan sonder hul ouers se toestemming.

“Reaksie op die Bela-wetsontwerp op Vrydag [se openbare sitting] was meestal negatief, met baie deelnemers wat die wetsontwerp heeltemal verwerp het,” sê Baartman.

“Dit weerspieël die neiging van vorige verhore, wat sterk teenkanting teen hierdie omstrede stuk wetgewing gesien het,” sê sy.

Die publiek kan nog tot 4 April hul insette oor die omstrede Bela-wetsontwerp lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article