Vier vermomde rowers wat Saterdagnag op die Alpha Equestrian-perdeplaas op die Keerwederpad ’n gewapende huisroof uitgevoer het, word tans deur die Paarl-polisie gesoek.
Die polisiestasie se woordvoerder, kapt. Louise du Plessis, het Paarl Post meegedeel dat hulle vir ondervraging gesoek word ná “ ’n huisroof wat Saterdag, 22 Julie, laataand om ongeveer 23:00 in die Drakenstein se landelike gebied plaasgevind het.”
Volgens Du Plessis het die klaers, twee vroue van onderskeidelik 36 en 38 jaar, buite op die stoep gesit toe hulle deur die vier verdagtes met balaklawas genader is.
“Een verdagte het ’n mes gehad en ’n ander verdagte ’n klip. Hulle het die klaers gekonfronteer en hulle daarna aangerand. Een van die verdagtes het die huis binnegegaan en ’n selfoon gesteel,” aldus Du Plessis.
Die verdagtes het te voet van die toneel gevlug en die slagoffers het ná die traumatiese insident mediese hulp ontvang.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, AO Thabang Tsulo by 083 335 6710 of 021 807 4015 te skakel.





