‘n Gedenklesing vir wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel is die afgelope Dinsdag by die Universiteit Stellenbosch gehou. Foto’s: Rasaad Adams

Haar nalatenskap leef voort as ‘n ystervrou wat die status quo bevraag- teken en uitgedaag het in ‘n tyd toe die kerk en regeringsrolle deur hoofsaaklik mans oorheers is.

Só is wyle prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel die afgelope Dinsdag (12 Augustus) by ‘n gedenklesing by die Universiteit Stellenbosch (US) se teologie-fakulteit onthou.

Plaatjies-van Huffel, wat aan die Bergrivier Sekondêre Skool in Wellington gematrikuleer het, was die eerste vrou wat in November 1992 in die voormalige Sendingkerk as predikant georden is.

Sy is op 19 Mei 2020 oorlede aan komplikasies ná ‘n operasie – etlike maande voordat sy haar professorale intreerede as dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg by die US se teologie-fakuliteit op 12 Augustus 2020 sou lewer.

Die fakulteit hou sedertdien elke jaar ‘n gedenklesing ter ere aan haar.

Vanjaar se lesing op 12 Augustus is deur dr. Therese Fish, verbonde aan die US se mediese fakulteit en wat ook in die US-raad dien, gelewer.

Dr. Therese Fish Dinsdag aan die woord.

Familielede van Plaatjies-van Huffel het ook die gedenklesing bygewoon.

Fish het Plaatjies-van Huffel beskryf as ‘n vrou van staal wat nie bang was om plekke in te neem wat destyds vir hoofsaaklik wit Afrikaanse mans gereserveer is nie.

“Ek het nooit die geleentheid gehad om haar persoonlik te ontmoet nie, maar het haar profiel teëgekom toe haar volledige aanstelling as professor deur die US se aanstellingsraad oorweeg is.

“Nooit het ek gedink dat ons van die geleentheid ontneem sou word om na haar professorale intreerede te luister nie.

“Sy het ‘n stelsel uitgedaag wat ontwerp was dat vroue nooit daarin moes presteer nie.

“Die fondasie wat deur vroue soos sy gelê is, moet nie net ‘n fondasie bly nie. Ons moet aanhou baklei vir vroue se regmatige rol in hierdie samelewing,” het Fish gesê.

Plaatjies-van Huffel was ook die eerste vrou wat as moderator van die algemene sinode van die VGK verkies is.

Sy was ook die eerste vrou van kleur wat aan die US se teologie-fakulteit tot vol professor bevorder is.

Die fakulteit het intussen ‘n genootskapsprogram begin om haar verder te vereer.

Die eerste student in die genootskapsprogram is Sabrina September-Bailey van Saron, wat in 2018 teologie aan die US begin studeer het.

September-Bailey het haar meestersgraad in teologie in 2023 verwerf en is nou die dominee van die VGKSA Noordhoek in Ocean View, Kaapstad.

Sy het by die lesing gesê hoewel Plaatjies-van Huffel die weg gebaan het vir vroue se rol in die kerk, is daar nog ‘n lang pad om te stap.

“My man, wat ‘n onderwyser is, is die een wat dominee genoem word. Ek word aangespreek as juffrou.

“Ek is nog nie so lank in die bediening nie, maar moes al by verskeie geleenthede my eie gemeente en kollegas korrigeer. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel se lewe weerspieël hierdie einste ervarings, en nie veel het meer as 30 jaar later verander nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article