’n Inwoner van Klapmuts is duisende rande kwyt nadat sy ’n motor op sosialemedia gekoop het, maar sy wag nou nog vir haar wiele.
Die vrou het ‘n motor op Facebook gesien waarin sy belangestel het en die prys was reg.
Sers. Bernadene Arendse, Klapmuts polisiewoordvoerder, het gesê dat die vrou met die motorhandelaar wat die advertensie geplaas kontak gemaak het en daar is onderhandel dat sy die betaling vir die motor in ‘n bankrekening moes betaal, waarna die handelaar die motor sou aflewer.
“Sy het ’n betaling van R31 500 gemaak en die motor moes reeds teen 21 Mei afgelewer word. Sy wag nog steeds vir haar voertuig en het in tussen ’n saak van bedrog by die polisie hangig gemaak,” het Arendse gesê.
Verder is ‘n venster van ‘n proelokaal op ‘n Klapmuts wynplaas gebreek aangetref verlede week.
In ’n afsonderlike voorval ook is ‘n man se motor in Buttercupstraat beskadig deur ‘n voetganger. Die slagoffer se ma het die voorval sien gebeur, maar die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.
Arendse sê daar is ook ’n voorval waar ’n speurder van Klapmuts-polisie se selfoon vanaf sy lessenaar by die polisiestasie afgesteel is toe hy vir ‘n oomblik uit was. ’n Saak van diefstal is geopen.





