’n Huisrooftog het verlede Dinsdag in ’n wrede aanval ontaard toe ’n 75-jarige-vrou die rower in die gang van haar huis in Nelstraat, Wellington, betrap het.
Kol. Johan Barkhuizen, die stasiebevelvoerder van die Wellington-polisie, sê die vrou het ernstige beserings aan die voorkop, kop, nek en linkerarm opgedoen nadat die rower haar bygedam en aangerand het.
“Die slagoffer is deur ’n harde slag uit haar nagrus ontwaak. Sy het oombliklik die paniekknoppie gedruk, maar die noodsein het blykbaar nie gewerk nie.”
Die vrou het uit haar bed opgestaan en na die loopgang beweeg.
“Toe sy in die gang van haar huis afstap, het sy ’n onbekende man betrap. Hy het haar met ’n blompot op die voorkop en kop geslaan. Daarna het hy haar om die nek beetgekry en gewurg voordat hy vir haar op die vloer neergegooi het.”
Die slagoffer het van verdere gevaar gevlug en deur die kombuisdeur ontsnap. Sy het na haar bure se huis gehardloop om hulp te ontbied.
“Die rower het met ’n selfoon, radio, ’n leesbril en die vrou se bruin leerhandsak met bank- en mediese kaarte van die toneel af gevlug.”
Barkhuizen sê niemand is in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.
- A 75-year-old woman was badly beaten, choked and thrown on the floor by a burglar in Nel Street, Wellington, on 12 July. She was awoken by a loud noise around 05:00, only to find the suspect in the hallway of her house before he viciously attacked her. She managed to escape to alert neighbours. The suspect fled with a cellphone, reading glasses, a clock radio and her handbag with bank and medical aid cards.





