Wys my jou vriende, en ek vertel jou hoe lyk jou toekoms. Ek het iewers, lank gelede, hierdie gesegde gehoor en maar altyd so stilletjies daaroor gelag. Gelag, ja, want in daardie stadium in my lewe het die vriende wat deel van my lewe was, die vermoë gehad om my te laat wonder of my toekoms saam met hulle nie gedoem was en in ’n ramp sou ontaard nie.

Die dae, nagte en naweke van eindelose plesier het daartoe gelei dat die behoefte aan behoort en kameraadskap ordentlik gevoed word. Ons was maar almal jonk en onskuldig; op soek na die ware betekenis van die lewe – saam met mekaar; weg van mekaar.

Daar was die oomblikke van uitbundige vreugde, maar ook die oomblikke van twyfel of die pad waarop jy jou bevind – saam met die groep met wie jy die reis deel – die moeite werd is.

Dit was die reis na ’n see-stad en ’n woestyn-stad (destyds) wat die ankers na die grootmenswêreld behoorlik vasgelê het. In die aangesig van verpletterende tweespalt in die vriendskap, aangevuur deur menslike onwysheid, het ek gesien en beleef wat ek nie wou wees nie. Op hierdie einste reis het ek egter ook tussen alles deur die stem gehoor en die hart gevoel wat stilweg bevestig het dat alles orraait is en dat ek die toets van die tyd sal deurstaan. As ek nou terugkyk, glimlag ek steeds, want die toets en die tyd het sy doel gedien.

Vandag, jare hierna, staan ek in verwondering oor hoe die einste toets en tyd uiteindelik uitgespeel het. Die populariteit, vrolike samesyn en kameraadskap is iets van die verlede, want die lewe staan nie stil nie. ’n Hunkering na dit wat was, bestaan gewis ook nie meer nie – wel die lesse geleer, wat uiteindelik die mens sal definieer wat ek vandag is. Nuwe vriende en veral kennisse het intussen hul opwagting gemaak. Die skep van nuwe oomblikke en herinneringe kry nou die voorkeur. Met die skep van nuwe oomblikke en herinneringe bestaan maar altyd ook die moontlikheid dat ’n verhouding of vriendskap in die slag kan bly.

Dis egter my voortdurende wonder oor wat die diepte van ’n gehalte-vriendskap inhou, wat my uiteindelik tot die besef laat kom het dat onrealistiese verwagtinge van die een en die ander nie geskep moet word nie. Dis in ons wees en vry wees dat ons die uniekheid in die ander kan raaksien, geniet en waardeer. Dis juis hierdie ontdekking wat my met nuwe oë na die mense wat deesdae oor my pad kom, laat kyk. Die aard van my persoonlikheid is dat ek mal is oor mense; lief is vir mense; omgee vir mense. Dit maak nie saak wie of wat hulle is nie. Dis nou maar eenmaal deel van my DNS-samestelling.

Elkeen van hierdie mense sal nie noodwendig deel wees van my binnesirkel van vriende nie, maar dit beteken gewis nie dat hulle nie vir my belangrik is nie. Noem my dan maar ’n vriend van die wêreld, want daarmee sal ek kan saamleef. Solank ek ietsie van die mooi van hierdie lewe saam met vriend of vreemdeling kan deel, sal dit my innerlike vrede en vreugde verskaf. Gelukkig kan ek deesdae hierdie omgee en liefde vir my medemens op soveel platforms deel. Maar, weg van die massas, het my vriende in my binnesirkel aansienlik gekrimp. Ek kan hulle letterlik op die vingers van my een hand tel – die vriende wat jy in die middel van die nag kan bel as dit nie te wel gaan nie, vir wie die stiltes by ’n kuier nie steurend is of hulle raak nie, want daar is ’n rustige verstaan en aanvaarding geanker in onvoorwaardelike liefde.

Dis ook daai vriendskap waar afstand nie ’n faktor is nie, want ons harte het met die eerste ontmoeting ’n verbintenis gemaak wat ewige moontlikhede inhou. My twee vriende – een in Suid-oos Asië en die ander in ons buurland Namibië – se daarwees en verbintenis strek oor dekades. Ons praat nie elke dag nie, tog is die weersiens en hoor van mekaar altyd ’n bevestiging dat ons vir mekaar daar is en sal wees en dat ons groot waarde heg aan dit wat ons vriendskap noem. So ook my vriend in Amerika en die een in Taiwan, maar ook die ander drie op eie bodem. Dit maak weer die een hand van vriende vol.

Familie is ’n gegewe en vir hulle is en sal daar altyd ’n voorkeurplekkie in my binnekring wees. Ek verkies dit vandag so – my klein, intieme groepie vriende wat ek op die naam kan noem; hulle met wie ek ’n lang pad gestap het en die titel van ware vriende waardig is. Tog sal ek nooit my vriende in my wyer sirkel afskryf nie, want ons herinner mekaar dat ons mekaar dalk nog iewers op hierdie lewenspad kan nodig kry.

Wie is die vriende in jou binnekring?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article