Sakeondernemings in die Dal Josafat-omgewing in die Paarl sê hulle vrees vir hul veiligheid asook dié van werkers te midde van ’n onwettige stortingsterrein op die Swawelstertpad, wat glo misdadigers en plakkers na dié gebied lok en wat nou informele strukture hier opgerig het.
Paarl Post het kommunikasie bekom wat daarop dui dat die Drakenstein-munisipaliteit dié stuk grond in Julie verlede jaar ná ’n ondersoek ’n onwettige stortingsterrein verklaar het, te midde van klagtes deur inwoners en sakelui in die omgewing.
Die departement van omgewingsake is ook in daardie stadium by die ondersoek betrek.
Paarl Post kon by nadere ondersoek vasstel dat die stuk grond aan ’n Kaapstad gebaseerde trust behoort.
Die eienaar van ’n plaaslike onderneming, wat vir sy veiligheid nie sy naam wil noem nie, het vandeesweek aan Paarl Post gesê ten spyte van talle formele klagtes aan die munisipaliteit asook pogings deur die munisipaliteit om met die grondeienaar in kontak te kom, duur die onwettige storting voort.
“Wat nou gebeur, is dat ons ’n massiewe instroming van misdadigers het, wat die stortingsterrein deursoek vir skroot. ’n Mens kan aanneem dat hulle waarskynlik dan daardie geld vir dwelms gebruik.
“Ons vrees vir ons en ons werkers se veiligheid. Dwelmgebruikers kan verskriklik gewelddadig raak, veral as jy in hul pad kom.”
Hy sê die onwettige stortingsterrein is ook ’n omgewingskwessie.
“Allerhande goed word konstant gebrand. Ons vermoed dis kabels en ander stukke materiaal wat hulle as skroot gaan ingee.
“Hierdie is nie net ’n ernstige vorm van besoedeling nie, maar ook ’n brandrisiko. Ek glo stellig hulle het nie permitte vir hierdie oop vure nie.”
Volgens die sake-eienaar is dit in die belang van die munisipaliteit om ernstig teen die eienaars van die grond op te tree.
“Ingevolge munisipale wetgewing moet goed soos bourommel op die munisipale stortingsterrein in Wellington gestort word. Skoon bourommel kan hier gratis gestort word, maar jy moet egter ’n fooi per kilogram betaal wanneer jou bourommel staal, plastiek en ander materiaal bevat.
“Die munisipaliteit verloor dus baie inkomste omdat mense nou hul eie ondernemings begin het om rommel hier naby ons teen ’n laer fooi onwettig te stort.”
Enkele sakeondernemings het by navraag gesê hulle betaal enigiets tussen R60 000 en R80 000 maandeliks aan die munisipaliteit om van hul rommel “op die wettige wyse” ontslae te raak.
Paarl Post verstaan dat die munisipaliteit in Oktober verlede jaar die grondeienaar skriftelik ingelig het dat hy die munisipale ordonnansies op geïntegreede afvalbestuur oortree.
In die e-pos word die Kaapstad gebaseerde trust daarvan verwittig dat sy grond as ’n onwettige stortingsterrein gebruik word.
Die trust is in daardie stadium 30 dae gegee om van alle rommel ontslae te raak en op ’n geregistreerde perseel te gaan stort.
Die munisipaliteit het in die e-pos gesê indien die trust versuim om die opdragte binne die gegewe tydperk uit te voer, sal die kwessie onder meer na die stadsbestuurder se kantoor verwys word, wat dit dan met die direkteur vir openbare vervolging kan opneem.
Paarl Post kon vandeesweek die trust telefonies bereik, waartydens Rob Houliston, een van die trustees, vlugtig gesê het hulle neem kennis van die munisipaliteit se opdragte. Hy het gesê hulle het reeds verlede maand daarop reageer.
Hy het bygevoeg hulle wag vir die munisipaliteit se antwoord op hul versoek om met stootskrapers voorsien te word om van die rommel ontslae te raak.
Houliston kon nie sê of hulle planne het om die plakkers te verwyder en die grond te omhein nie.
Louis Pienaar, die uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het by navraag gesê nadat die grondeienaar versuim het om binne die gegewe tydperk van die rommel ontslae te raak, is die kwessie by die munisipale hof in die Paarl opgeneem.
Hy sê die munisipale hof sal ook beslis of plaaslike informele vullisverwyderaars, wat rommel onwettig daar gestort het, vervolg sal word.





