Peter de Villiers. Foto: Argief


Vredenburg se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek ’n saak van seksuele aanranding teen die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers.

De Villiers is verlede week uit die GOOD-party geskors.

Hy dien tans as ’n Wes-Kaapse parlementslid van GOOD, maar het voorheen as ’n raadslid in die Drakenstein-munisipaliteit opgetree nadat hy in 2021 by die party aangesluit het. Hy was ook die voormalige afrigter van die nasionale Dowes-rugbyspan.

Die inligting is bekendgemaak nadat GOOD op 2 Februarie ’n persverklaring uitgereik en verduidelik het dat die party De Villiers weens ’n klag van seksuele wangedrag teen hom geskors het.

LEES OOK: GOOD-party skors hul Drakenstein-leier, Peter de Villiers

Volgens lt.kol. Malcom Pojie, ’n woordvoerder van die provinsiale polisie wat na De Villiers verwys as ’n “verdagte,” kan geen besonderhede oor die saak bekendgemaak word nie.

“Ons is nie vry om enige besonderhede van die verdagte of beskuldigde bekend te maak nie, tensy hy in die hof verskyn het en nadat hy aangekla is.

“In seks-verwante gevalle kan die name van ’n beskuldigde nie bekend gemaak word voordat die beskuldigde(s) gepleit het nie.”

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, het Pojie in ’n e-pos op 5 Februarie aan die Paarl Post gesê.

Volgens die Weslander, die susterskoerant van die Paarl Post, het ’n mede-partylid die seksklag aanhangig gemaak nadat “ ’n man glo ’n vrou na bewering ’n snedige naam genoem en toe probeer soen het”.

Brett Herron, die sekretaris-generaal van GOOD asook ’n parlementslid, het in verlede Vrydag se verklaring gesê GOOD se grondwet is duidelik oor geslagsverhoudinge en geslagsgebaseerde geweld.

“Die grondwet is van toepassing op alle lede, ongeag hul posisie.

“De Villiers se skorsing is nie ’n skuldbevinding nie, maar dit weerspieël die erns van die bewerings.”

Volgens Heron se verklaring sal die politieke party ’n tugproses instel om te bepaal of De Villiers GOOD se grondwet oortree het of nie.

Hy het verder gesê weens die sensitiewe aard van die bewerings sal die party voorlopig geen verdere kommentaar oor die aangeleentheid lewer nie.

Dit is in hierdie stadium ook nie duidelik hoe ver die polisieondersoek gevorder is of wanneer die partye in die hof sal verskyn nie.

Paarl Post het op 6 Februarie na De Villiers uitgereik vir kommentaar oor die beweerde aantygings teen hom, maar teen druktyd geen antwoord ontvang nie.

Hierdie is die tweede seksskandaal wat die GOOD-party geruk het nadat Shaun August en Felicity Klazen verlede jaar geskors is nadat aantygings teen hul gemaak is oor “alkohol-aangedrewe sekspartytjies” tydens tussenverkiesings.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article