Twee vragmotors het verlede Vrydagaand (21 April) reg van voor by die Hugenote-tonnel se tolhek in die Paarl teen mekaar gebots.
Jandré Bakker, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse mobiliteitsdepartement, het die voorval bevestig en gesê dit het omstreeks 20:40 gebeur.
Paarl Post het afsonderlik met twee insleepdiensoperateurs van Ismail’s Towing en One-Way Towing gesels. Volgens hulle was een van die vragmotors in die rigting van Kaapstad onderweg en die ander na Worcester.
Die bestuurder van die vragmotor wat in die rigting van Kaapstad gery het, het na bewering beheer oor sy voertuig verloor en reg van voor teen die ander vragmotor, wat by die betaalpunt by die tolhek stilgehou het, gebots.
Bakker het verder bevestig nie een van die bestuurders van die twee vragmotors het enige beserings in die botsing opgedoen nie.
Beamptes van die Wes-Kaapse provinsiale verkeersdepartement was ook op die toneel om die verkeer te reguleer.
Die N1 is kort ná die botsing gesluit en motoriste is aangeraai om van Du Toitskloofpas gebruik te maak.
Die N1 is nadat die toneel opgeruim is, teen 23:15 heropen.
Die voorval word verder deur speurders van die Paarl-polisie ondersoek.





