Twee vragmotors het Vrydagaand (21 April) kop-aan-kop gebots by die Hugenote-tonnel se tolhek in die Paarl.
Jandré Bakker, woordvoerder van die Wes-Kaapse mobiliteit departement, het die ongeluk bevestig en gesê dat die insident omstreeks 20:40 gebeur het.
Paarl Post het afsonderlik met twee insleepdiens operateurs gesels van Ismail’s Towing en One-Way Towing. Volgens hulle, was een van die vragmotors op pad in die rigting na Kaapstad en die ander een was op pad in die rigting na Worcester.
Hulle verduidelik dat die bestuurder van die vragmotor wat in die rigting van Kaapstad toe gery het, na bewering beheer verloor het oor sy voertuig en kop-aan-kop gebots het met die ander vragmotor wat stilgehou het by die betaalpunt van die tolhek.
Bakker het verder ook bevestig dat die bestuurders van beide vragmotors geen beserings opgedoen het tydens die ongeluk nie.
Beamptes van die Wes-Kaapse provinsiale verkeersdepartement was ook op die toneel om die verkeer te reguleer. Die N1 is kort na die ongeluk gesluit en motoriste is aangeraai om gebruik te maak van Du Toitskloofpas. Nadat die toneel opgeruim is, is die N1 weer heropen teen 23:15, sê Bakker.
Die ongeluk word verder ondersoek deur speurders van die Paarl-polisie.





