“Wat kan ons gemeenskappe doen om ons woonbuurt te beveilig?”
Dít is die knellende vraag wat ’n anonieme inwoner vra nadat nog iemand die afgelope naweek sy lewe aan die hand van ’n vuurwapen in Hillside, Paarl-Oos, verloor het.
Die nuutste skietdood het die afgelope naweek in die gebied in Avonstraat plaasgevind. Volgens kapt. Anthony Sauls, ’n woordvoerder van die Paarl-Oos-polisie, is die oorledene ’n 16-jarige seun. “Met die polisie se aankoms op die toneel het die slagoffer in die straat gelê met skietwonde in die rug. In dieselfde voorval is ’n 21-jarige man in die maag geskiet. Hy ontvang tans behandeling in die Tygerberg-hospitaal.”
Sauls sê verder nog twee mense is ook vermoor.
“In Milky Town is ’n 21-jarige man in hegtenis geneem nadat hy ’n ander man doodgesteek het. Dié twee het na bewering gesit en drink toe ’n stryery uitgebreek het.
“In ’n afsonderlike voorval is ’n man van iets in die laat twintig by die Bauhinia-woonstelle dood. Mense in die omgewing het gesê hy is geskiet. Die slagoffer is op toneel dood verklaar.”




