Dit was ’n heerlike koel Saterdagoggend. Ek het my soos sovele kere vantevore in die parkie bevind, ’n klipgooi van waar ek woon. Dis ’n stil en rustige parkie met jou paar sement-sitbankies, ’n paar oefenapparate, ’n swaai en skoppelmaai vir die kinders en ’n pragtige uitsig oor die see. Ek sal nooit genoeg kan kry van hierdie salige uitsig, verweef met my behoefte aan kopskoonmaaktyd nie. Dis in die parkie waar ek vir ’n paar oomblikke net kan asemhaal en die dag of week wat voorlê se take beplan, of om ’n bietjie te reflekteer oor die week wat verby is. Ek moet erken dat ek nogal selfsugtig oor hierdie kosbare my-tyd oomblikke is.
Hierdie spesifieke Saterdagoggend was egter anders, want my oomblik van stilword en uitkyk oor die see is skielik onderbreek. Ek het haar sien aanstap, maar soos sovele kere vantevore sal die random vreemdeling se doen en late my nie hier in die parkie steur nie. As jy oefen, spring of sommer net deurloop, is dit mos jou saak.
Die dame het eerste oogkontak gemaak en vriendelik gegroet. Ek groet haar terug en die volgende oomblik begin sy haar lot by my bekla.
Dit was iets in die lyn van “ek het net vanoggend besluit ek loop uit daai huis uit. Ek het nou ’n lekker ver ent gaan stap. Dit het my so goed gedoen. Ek voel nie eens om terug te gaan huistoe nie, want ek weet wat vir my wag. Weet jy, daai seun van my en dié se vrou bly daar by my in die huis. Hulle het twee kinders. Daai twee kinders maak my gek. Hulle het geen respek nie. Hulle doen net soos hulle wil, maar die ouers sal niks doen om hulle reg te help nie. Hulle wil net hê en ek moet gee. Ek is al so siek en sat van daai kinders se rou maniere. Dis asof ek deesdae nie eens meer ’n sê in my eie huis het nie. En as ek praat oor die dinge wat verkeerd is, dan is ek die een na wie die vinger gewys word”.
Ek was stomgeslaan. Dit was asof ’n spreekwoordelike damwal by die vrou gebars het. Al wat ek kon doen, was om te luister. Om die waarheid te sê wou ek iewers darem net ’n woordjie inkry om haar ook van my kant af te bemoedig, maar nee. Sy het net aanhou praat en praat en praat. En ek het geluister en geluister. Klink hierdie prentjie vir jou bekend?
Daar is soveel van ons mammas en oumas wat soos hierdie vrou dalk ook somtyds nodig het om iewers by iemand te ontlaai. Hoe lui die gesegde nou weer? Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Nie alle mammas en oumas is egter so bevoorreg om af en toe ’n koers in te slaan en ’n ent te gaan stap of draf nie, want die huis, kinders en kleinkinders eis al die aandag en tyd.
Wat my so diep getref het van dié ma se ontlaaisessie was die feit dat haar eie kind en kleinkinders haar basies in haar eie huis boelie. Sy word die slagoffer wat heen en weer in haar eie huis rondgesit word. Klink dit vir jou bekend?
’n Mens kan dadelik vra waar dié verskynsel sy oorsprong het. Daar is beslis nie ’n eenvoudige antwoord hiervoor nie, maar wat ek uit ondervinding geleer het, is dat as jy jou kinders bederf het in hul grootword-fase, dan gaan jy iewers op die lang pad die vrugte daarvan pluk. Dit is nou maar net ’n feit van die lewe. Wanneer jou gesag as ouer deur kind en kleinkinders ondermyn word, moet jy weet daar is ’n krisis op hande.
Ons word eersdaags weer herinner aan die belangrikheid van ons menseregte. Die vraag wat onwillekeurig by my posvat, is of ons daardie regte van ons ken en of ons dit wil ken. En dis juis by hierdie punt dat ek wonder of die miskenning van ons regte nie ’n direkte uitvloeisel is van die kommerwekkende gesinsgeweld wat in ons samelewing voorkom nie. Soos die vrou in die parkie is daar in soveel huishoudings spreekwoordelike bomme wat wag om te bars, omdat ons iewers nie ferm genoeg was om die grense in die huishouding vas te lê nie.
Gelukkig is dit nooit te laat om vir hulp te vra nie. Moet egter nie wag totdat dit te laat is om vir hulp te vra nie. Ek was maar te dankbaar om aan die ontvangkant van die vrou in die parkie se gebreekte damwal te wees. Ek was dalk bestem om daardie Saterdagoggend aan haar ’n oor te verleen. Ek hoop die feit dat sy kon ontlaai vir haar ekstra moed gegee het om vir haar kinders en kleinkinders die boodskap hard en duidelik oor te dra – genoeg is genoeg! In hierdie huis is ek die ma en julle die kinders. Punt.
Mammas, oumas, dames . . . laat niemand jou van jou regte as vrou ontneem nie.





