Ons bevind onsself weer in ’n nuwe jaar met nuwe uitdagings en geleenthede, maar dit was veral graad 1- en graad R- leerders wat vandeesweek alte goed die konsep omarm het met die eerste skooldag wat gister (Woensdag) aange­breek het.

Jaar ná jaar verwag ons ’n tranedal soos die kleintjies aantree vir hul eerste dag in die “groot skool” en jaar ná jaar staan ons verbaas oor hoe hierdie leerders verandering en nuwe uitdagings met groot opgewondenheid aangryp.

In die afgelope twee jaar, wat geen leerder wat voor 2020 op die skoolbanke gesit het hul mee kan vereenselwig nie, moes leerders aan nuwe leermetodes en wyses van klasonderrig gewoond raak om hul skoolloopbaan te kon voortsit.

Die graad 1’s van 2022 het dus ook ’n groot voorsprong bo hul voorgangers deurdat meeste van hulle die afgelope twee jaar in ’n kleuterskool of pre-primêr reeds die nodige grondslag gekry het om hul grootskoolloopbaan met vertroue te kan aandurf ongeag die uitdagings wat in die toekoms oor hul pad mag kom.

Mag 2022 elke leerder met voorspoed en sukses begroet.

Mag pouses gevul wees met skaterlag en kosbare oomblikke wat tussen maats gedeel word en mag tyd in die klas gepaardgaan met gehoorsaamheid, respek vir mekaar en ’n ywer om kennis op te doen om elkeen te bekragtig vir ’n blink toekoms!

Sterkte vir 2022!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article