Skreiende skande! Dit is maar een van die maniere om die absolute chaos by Eskom hierdie week te beskryf.
Die onbeholpe staatsinstansie dwing nou die ganse land tot stilstand. En wat die situasie verder vererger, is dat die staat dit toelaat.
Ons is reeds die afgelope jare stomgeslaan deur die staat se huiwering om daadwerklik in te tree in die chaos by die krag-instansie – eens op ’n tyd sou ’n mens na Eskom kon verwys as die kragreus, maar vandag is hy ’n onbeholpe dwerg van ’n instansie.
Algehele wanorde, kundige intuimeling en korrupsie is maar van die daaglikse gebeurtenisse in die geledere van Eskom.
Iets wat egter verder kwel, is die wyse waarop die staat hierdie absolute krisis hanteer.
Byna twee en ’n half jaar gelede, toe die wêreld begin nies het, was die Uniegebou se heerskappy baie vinnig om beheer te neem en die land te sluit – alles in die naam van ‘vir die welsyn van die volk’!
Maar die land is op pad na verdere ellende met Eskom se ineenstorting, maar steeds lig die regering nie ’n vinger om werk te maak hiervan nie.
Sakeondernemings gaan reeds gebuk onder geweldige alledaagse koste en dan ook die absurde hoë prys van brandstof.
Weens die onvermoë van die regering om ’n voldoende kragnetwerk te bestuur, gaan sakeondernemings net verder tot op hul knieë gedwing word. ’n Mens hoef nie ’n ruimtewetenskaplike te wees om te voorspel hierdie gaan net tot nog werkloosheid lei – in ’n tyd wat dit reeds die hoogte ingeskiet het.
As die staat nie baie vinnig intree en met langtermynoplossings vorendag kom nie, gaan hierdie na ’n baie groter pandemie as Covid-19 lei!




