– Vervolg van bladsy 1.
“Ons elkeen het ’n rol om te vervul ten einde ’n skoner omgewing te skep. Ongelukkig speel sosio-ekonomiese faktore ook ’n groot rol in mense se optrede en hul siening van vullis en die rol wat munisipaliteite speel.”
Esau is egter oortuig sodanige projekte kan lewensvatbaar wees, en is volgens hom reeds die geval in sekere gebiede.
“Soos in Mbekweni, waar gebiede wat voorheen as onwettige stortingsbrandpunte bestempel is, nou deur die omliggende gemeenskap in samewerking met die munisipaliteit verfraai word. Baie minder onwettige storting vind nou daar plaas.”
Om skoonmaakaksies volhoubaar te maak, glo hy die geheim is om klein te begin, soos die munisipaliteit se leuse “Transforming one community at a time”.
Tog verseker die munisipaliteit dat hy ernstige aandag aan die bekamping van onwettige rommelstrooi en vullisstortings skenk.
“Geraakte gebiede word so ver as moontlik weekliks deur die munisipaliteit se afdeling vir vaste-afvalbestuur skoongemaak.”
Esau se motivering is dat die Drakenstein gereelde skoonmaakaksies in samewerking met inwoners/vrywilligers, asook skoonmaakaksies op versoek van sportklubs, studente en ander belanghebbendes beplan.
“Die gemeenskap word versoek om met die munisipaliteit saam te werk deur oortredings van onwettige storting by die tolvrye nommer 080 131 3553 aan te meld. Elke inwoner is ook geregtig om een vrag vullis (tot 1 ton) gratis by die Paarl-oorlaaistasie of die Wellington-stortingsterrein te stort.”
Verder word die gemeenskap versoek om hul omgewing skoon te hou en selfs te verfraai.





