Daar is geen keer aan Meacke Lawrence wanneer die fluitjie blaas en sy op die atletiekbaan lostrek nie. Dié gr. 6-leerder aan die Laer Meisieskool La Rochelle het ’n uithouvermoë wat skrik vir niks, en sy is vasberade om haar doelwitte te bereik.

Meacke is ’n sprankelende sportster, en is benoem as Paarl Post se sportster van die maand vir April. Volgens haar ma, Aliska Lawrence, het Meacke met sport begin toe sy nog op kleuterskool was. “Hulle het altyd sportdae gehou en toe het sy ook maar altyd gehardloop daar en sy het destyds atletiek begin wen. Ek het haar toe altyd daar gesien en besef sy gaan ’n atleet wees.”

Toe Meacke haar skoolloopbaan in gr. R by La Rochelle begin, het sy net verder gegaan met wat sy lief het – sport. Aliska het intussen vir Meacke ’n afrigter gekry om haar te help verbeter in atletiek. Sy neem aan die 100 m, 150 m en verspring deel.

“Ek het aan die begin gedink hoekom moet sy ’n afrigter kry, ek kan ook mos maar hardloop,” lag Aliska. Sy sê verder: “Maar ons het toe vir Jacques Bothma gekry.”

Buiten atletiek het Meacke ook by die netbalspan aangesluit. Sy het onlangs deelgeneem aan die Kaapse Wynland netbalproewe, maar het nie die span gehaal nie. Ten spyte van die terugslag hou sy nog steeds aan om hard te oefen. Of dit nie vanjaar is nie en dalk volgende jaar glo Meacke dat sy ’n plek in die span sal behaal.

Meacke sê sy hou van sport omdat dit pret is en omdat sy daarvan hou om aktief te bly. Wanneer sy nie hardloop of netbal speel nie, sit Meacke lekker rustig agteroor en lees.

Haar atletiek-hoogtepunte sluit in dat sy vroeër vanjaar kon deelneem in die SA atletiekkampioenskap in Potchefstroom. Dit is die eerste keer dat sy so ver kom, veral omdat sy tydens die Covid-19-vlae nie kon deelneem aan sport nie. Beide Aliska en Meacke is ook verskriklik dankbaar vir die La Rochelle-skoolgemeenskap se ondersteuning, veral met haar toer na Potchefstroom.

Die jong sportster is plat op die aarde, skaam en sy praat nie juis baie nie. Haar ma beskryf haar as ’n “op-en- wakker” mens en iemand met ’n sterk persoonlikheid. Sy laat ook niks haar onderkry nie.

“As sy iets wil doen, gaan niks haar keer nie,” voeg Aliska by.

Alhoewel sy nog nie daaraan begin dink het watter loopbaan sy wil volg ná skool nie, is Meacke seker daarvan dat sy tot op haar oudag sportief sal wees. Sy werk tans hard om haar Boland- kleure te kry.

Vir ander jongmense wat ook mal is oor sport wil sy net sê: “Geniet dit net en volg jou drome.”. Meacke Lawrence, a Grade 6 learner at La Rochelle Girls’ Primary School, has been named Paarl Post’s Sports Star of the Month for April.

Höer- en laerskool leerders van Drakenstein wat uitblink op die sportveld word genooi om in te skryf vir Paarl Post-skolesportster van die jaar-kompetisie. Elke maand sal ’n HS- en LS-maandwenner aangewys word en aan die einde van die jaar sal die algehele wenners van die twee kategorieë aangewys word op ’n geselligheid wat bygewoon sal word deur al die finaliste.

Om in te skryf, stuur ’n kort opsomming van die sportseun of -meisie na edit@paarlpost.co.za of Whatsapp 079 516 6941.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article