’n Voetganger wat Dinsdag om 14:30 in Jan Van Riebeeck-rylaan deur ’n motor getref is, is spoedig deur nooddienste op die toneel behandel.
Volgens ’n vrou op toneel, wat die ongeluk oorkant die Dal Josafat-toetssentrum sien gebeur het, was die betrokke voertuig van Wellington na Paarl in Jan Van Riebeeck-rylaan onderweg.
“Ek het die pad van die toetssentrum se kant af te voet oorgesteek nadat ’n taxi my daar afgelaai het. Teen die tyd dat ek die middelmannetjie van die pad bereik het, het die verkeerslig in Paarl se rigting groen geraak vir aankomende verkeer van Wellington af.”
Sy het die mans aan die ander kant van die pad gesien voordat hulle die pad, naby ’n aktiewe padbouperseel, oorgesteek het.
“Die een man het ’n trollie gestoot en hulle het albei die pad oorgesteek terwyl die lig vir verkeer groen was. Een motor het daarin geslaag om voor die een man uit te swaai, maar die voertuig het die ander ouer man getref.”
Die trollie waarmee die twee mans na bewering die pad oorgesteek het, was teen die tyd dat rolspelers op die toneel opgedaag het reeds weg.
Volgens die Paarl-Oos-polisiewoordvoerder, kapt. Basil Seekoei, word ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.
Daar word beweer dat ’n 39-jarige voetganger met ’n trollie na die verkeerslig gestap het en deur ’n aankomende voertuig getref is.
“Die voetganger het beserings opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.”
In ’n afsonderlike voorval het twee jong mans Sondagoggend geringe tot matige beserings opgedoen nadat hul sportnutsvoertuig op die R44-pad buite Wellington gerol het.
Volgens ’n ER24-nooddienswerker het die nooddiens Sondagoggend om 07:10 ’n oproep ontvang oor ’n sportnutsvoertuig met twee insittendes, ’n 19-jarige en ’n 20-jarige man, wat by die R44-pad naby die Malan-treinstasie in Wellington omgeslaan het.
“Die sportnuts het 20 m van die pad af by ’n dam ingerol. Die 20-jarige bestuurder het matige beserings opgedoen terwyl die 19-jarige ligte beserings getoon het. Albei is op versoek na die Paarl-hospitaal vervoer.”
Die mans het blykbaar van Wellington na Paarl gereis.





