Huishoudings en ondernemings kan vergoed word vir hul terugvoering in die kragnetwerk.

Credit: SYSTEM

Beurtkrag bly ’n alledaagse deel van landsburgers se lewe. Dus is die publiek al hoe meer op soek na alternatiewe tot Eskom se sukkelende kragvoorsiening.

Tans is die gewildste alternatief tot Eskom sonkrag, en die Drakenstein-munisipaliteit sê sowat 1 300 private sonkrag-instellasies is in die gebied opgerig.

Die Stad Kaapstad betaal inwoners vir krag wat hulle in die stelsel van hul sonkragstelsels terugvoer.

Die prosedure vir die publiek se terugvoer van krag in die stelsel in Drakenstein is gereed, sê Louis Pienaar, die direkteur van ingenieursdienste van die Drakenstein-munisipaliteit.

In Drakenstein moet ’n verbruiker aansoek doen vir kleinskaalse ingebedde opwekking (Small-Scale Embedded Generation; SSEG) en aandui of die elektrisiteit wat opgewek gaan word, slegs vir eie gebruik is of in die netwerk teruggevoer gaan word.

Drakenstein se invoertarief vir verbruikers in die huidige boekjaar (2023-’24) is R0,7866 per kWh (BTW uitgesluit) en dit is slegs van toepassing op die energieverbruik in die kWh-gedeelte van jou rekening.

Die verbruiker word oor ’n tydperk van ’n maand gekrediteer vir eenhede wat gebruik word. Indien die verbruiker meer eenhede in die netwerk terugvoer, word die surplus geberg en gebruik wanneer minder of geen eenhede teruggevoer word nie.

Hier volg voorbeelde hiervan:

  • Wanneer die verbruiker 1 000 eenhede (kWh) gebruik en 1 200 eenhede terug in die munisipale elektriese netwerk voer, word die verbruiker R0,7866 vir die 1 000 eenhede vergoed en word dit teen die verbruiker se elektrisiteitsrekening gekrediteer. Die oorblywende 200 eenhede word geberg (in ’n “spaarbussie”) en gebruik wanneer minder of geen eenhede teruggevoer word.
  • Wanneer ’n verbruiker 500 eenhede gebruik en geen eenhede terug in die netwerk voer nie, maar die verbruiker het 200 eenhede in sy “spaarbussie”, word die verbruiker ’n rekening gestuur vir die 500 eenhede teen die munisipale tarief, maar die rekening word teen R0,7866 vir die 200 eenhede gekrediteer. Die somtotaal van die twee vorm die finale energie-kWh-kostes van die verbruiker se elektrisiteitsrekening.
  • Wanneer die verbruiker 500 eenhede gebruik en geen eenhede terug in die netwerk voer nie, maar 700 eenhede in die “spaarbussie” het, word die verbruiker ’n rekening vir 500 eenhede gestuur teen die munisipale tarief en die 500 eenhede teen R0,7866 gekrediteer. Die somtotaal van die twee vorm die finale energie-kWh-kostes van die elektrisiteitsrekening. Die oorblywende 200 eenhede bly dan in die “spaarbussie”.

’n Verbruiker se krediet-eenhede mag ophoop, maar verval elke jaar op 30 Junie, terwyl die nuwe siklus weer jaarliks op 1 Julie begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article