Voëlgriep is ’n dodelike virus met ’n 100%-sterftesyfer onder pluimvee. Foto: Heleen Rossouw

Credit: SYSTEM

Die hoenderbedryf word steeds deur gevalle van voëlgriep bedreig, lui die amptelike verklaring van die DA se Wes-Kaapse landbouwoordvoerder.

Andricus van der Westhuizen sê die provinsie se kommersiële pluimveeboere is erg deur die HPAI H5N1-virus (voëlgriep) getref, aangesien 30,6% van eierboere landwyd deur die vlaag geraak is.

Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) se moniteringsverslag is 329 500 braaikuikenvoëls en 1 470 540 eier-voëls gedurende die moniteringsperiode van kant gemaak.

“Hoewel dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse landbouminister, daarop let dat voëlgriepgevalle aan die afneem is, beveel Sapa pluimveeboere sterk aan om streng veiligheidsmaatreëls te tref.

“Die sektor is steeds ’n reuse-rolspeler wat Suid-Afrika se kosproduksie betref, aangesien pluimveeprodukte stellig die goedkoopste soort vleis of bron van proteïen in die land is,” meen Van der Westhuizen.

Hy het ook daarop gewys dat hy terugvoer sal versoek oor die nasionale departement van landbou se ingrypings om pluimveeboere gedurende dié voëlgriep-vlaag te ondersteun.

“Voëlgriep het ongeveer 100 keer oor Suid-Afrika heen uitgebreek sedert die aanvanklike uitbreking in Gauteng gedurende April 2021 begin het. Dit toon weer eens hoe vatbaar die pluimveebedryf is en dui daarop dat die nasionale departement van landbou meer moet doen om biosekuriteit en voorsorgmaatreëls van veeboerderye te verseker en sodoende te verhoed dat siektes verder versprei.”

Windmeul-eiers se streng biosekuriteit

Met die inry na die Windmeul-eierplaas net buite Wellington moet besoekers by die hek wat na die produksie-aanleg lei, stilhou. Enige voertuig word dan van bo tot onder papnat met reinigingsmiddels besproei.

Pier Passerini, dié onderneming se besturende direkteur, sê biosekuriteit is hoog op die maatskappy se prioriteitslyste wat hul produksieplase betref.

“Sommige van ons produksieplase is in 2017 baie erg deur voëlgriep getref. Boere het baie lesse ná ’n uiterse finansiële, selfs emosionele, stryd met dié destydse ernstige vlaag geleer.”

Hy het waardevolle wyshede danksy vorige vlae – selfs Covid-19 – bekom.

“Dit is die geval met enige virus – soos die pandemie ons geleer het – om die virale lading van die verspreiding so laag as moontlik te hou. Hoe beter jou biosekuriteit-voorsorgmaatreëls bestuur word, hoe minder kans bestaan dat jou plaas heeltemal oorweldig word.”

Een so ’n biosekuriteitsmaatreël op die plaas is ’n reiniging-sproeistelsel by die ingang en ander plekke wat met die produksie-aanleg verband hou. Die sproei word op enige voertuig wat die plaas binnegaan, gespuit – selfs wanneer voertuie die plaas verlaat om die moontlikheid van aansteeklike patogene te verminder.

Hou jy hoenders op die erf?

Passerini sê voëlgriep is dodelik vir pluimvee met ’n 100%-sterftesyfer. Pluimvee wat weens voëlgriep siek is, moet van kant gemaak en die oorskot vernietig word om verdere verspreiding te verhoed.

“Ek het ’n paar wenke vir diegene wat ’n paar hoendertjies op hul erf of kleinhoewe aanhou,” verduidelik Passerini.

“Maniere om dit onder jou pluimvee te identifiseer, is wanneer hulle ‘morbied’ en stil raak en min of glad nie eet nie.

“Nog ’n belangrike voorsorg is om wilde voëls van pluimvee weg te hou, aangesien hulle draers van die virus is, al is dit nie vir hulle dodelik nie. Uiteraard is dit belangrik om hul ruimte van bo tot onder met hoenderdraad te omhein.”

  • Poultry farms in the northern part of the country have been hit hard by a new wave of Avian Flu since April 2021. Local poultry farmers say while the threat looms, biosecurity measures are essential to control the spread of the disease.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article