Owerhede in die Wes-Kaap – insluitend dié in die Drakenstein-munisipaliteit – het die naweek hul hande vol gehad te midde van swaar reën, donderbuie en skadelike wind wat verwoesting in veral die plaaslike munisipaliteite van die Overberg en Overstrand gesaai het.
Bykans 288 mm reën is tussen Sondag en Maandag in sekere gebiede gemeet weens die laagdrukstelsel wat die naweek oor die land beweeg het.
In die Drakenstein-munisipaliteit is die Drommedaris- informele nedersetting die ergste getref, met 116 huishoudings wat weens oorstromings in die slag gebly het en 337 mense gevolglik dakloos gelaat het.
Tydelike verblyf is vir van dié inwoners deur die munisipaliteit voorsien met ander wat by familie en vriende gaan skuil het, het Louis Pienaar, die uitvoerende direkteur van ingenieursdienste in die munisipaliteit, Dinsdag aan Paarl Post gesê.
Pienaar sê onder meer die gemeenskapsaal in Mbekweni is gebruik om skuiling aan die geraakte inwoners te bied, met enkele haweloses wat van die rivieroewers na skuilings in Wellington geneem is.
Volgens Pienaar was die situasie in die munisipaliteit teen Dinsdag onder beheer.
“Die meeste van ons paaie was Dinsdagoggend om 06:00 oop. Ons het spanne gehad, wat paaie wat oorstroom is, skoongemaak het van vloedrommel. Die Langstraatbrug en Westhovenstraat, wat Maandag ontoeganklik was, is ook weer oop.”
Hy sê enkele substasies was teen Dinsdagmiddag nog ontkoppel weens hoë watervlakke, wat gevolglik tot onbeplande kragonderbrekings gelei het.
“Ons werk daaraan om oorblywende kragonderbrekings te herstel, wat onder meer die plaas Helderstroom insluit, waar ’n transformator vervang moet word.
“Die algehele impak van die gure weer in Drakenstein was onder meer oorstroomde huise, rioolverstoppings, vloedrommel op paaie, bome wat omgeval het, mini-substasies onder water en gevolglike kragonderbrekings. Geen ongevalle of sterftes is aangemeld nie.”
Enkele huishoudings en sakeondernemings naby die Bergrivier by die Langstraatbrug in Noorder-Paarl het ook Maandag effense oorstromings ervaar weens die rivier wat sy oewers oorstroom het.
Dereck Peceur, bedryfshoof van die munisipaliteit se brandweer- en reddingsdienste, het Dinsdag aan Paarl Post gesê die sterk vloei van die rivier kan aan die hoë reënval in ander dele van die provinsie toegeskryf word, maar die rivier se vloei het vermoedelik ook toegeneem weens hoë watervlakke by die Wemmershoek- en Bergrivierdam.
“Ons rampbestuurspanne was op ’n gereedheidsgrondslag nadat die waarskuwing deur die weerdiens uitgereik is, dus kon ons betyds mense wat langs die rivier plak, na veiligheid neem. Dit is ’n standaardprosedure wanneer hierdie soort waarskuwings uitgereik word.
“Wat wel opvallend is, is dat vanjaar se weer baie ongewone patrone toon. Dit is die tweede episode van ernstige oorstromings wat ons vanjaar ervaar. Dit is gewis nie die ergste oorstromings wat hierdie gebied al getref het nie, maar die feit dat hierdie twee so kort ná mekaar plaasgevind het, is gewis noemenswaardig,” sê Peceur.
Die Drakenstein-munisipaliteit kon nie Dinsdag by navraag bevestig wat die vlakke van die Bergrivier- en Wemmershoek-damme is en of enige sluise oop is nie. Die munisipaliteit het Paarl Post na die departement van water en sanitasie verwys.
In die Stellenbosch-munisipaliteit, wat onder meer Franschhoek, Jonkershoek en Cloetesville insluit, is Maandag bykans 100 oorstromingsverwante voorvalle by die munisipaliteit aangemeld, het Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, by navraag gesê.
“Skade weens die weer is ervaar in veral die Franschhoek-, Jonkershoek-, Mooiwater- en Groendal-gemeenskappe. Skade aan infrastruktuur is ook in Khayamandi, Cloetesville, Idasvallei, Jamestown en die sentrale Stellenbosch-gebied – veral rondom die Eersterivier – aangemeld. In Jonkershoek het 134 mm reën geval – ’n rekord. Die laaste rekord vir reënval in hierdie gebied was 84,7 mm reën in 1976.
“Dele van die Franschhoek- en Mooiwater-omgewing moes vir ’n geruime tyd onder ’n kragonderbreking gebuk gaan omdat ’n substasie heeltemal onder water was. Munisipale spanne werk steeds ten tyde van hierdie skrywe onverpoos voort om water weg te pomp, kragdrade weer op te rig en toevoer te herstel,” het Grobbelaar gesê.
Die Franschhoek-pas (R45) was teen Dinsdag nog vir verkeer gesluit.
Verskeie paaie in die Overberg- en Overstrand-munisipaliteit was ook teen Dinsdag nog gesluit.
’n Brug op die N2 tussen Botrivier en Caledon het weggespoel.
Amptenare daar het reeds gewaarsku dat herstelwerk lank kan duur.
Die R44, oftewel Clarens-rylaan tussen Bettysbaai en Kleinmond, was ook Dinsdag nog gesluit, asook die R320 tussen Hermanus en Caledon.
Skade weens oorstromings het ook daartoe gelei dat die Chapmanspiek-pad vir verkeer gesluit moes word.
Bronne in die landboubedryf het aan Paarl Post gesê die Paarl het reeds sy gemiddelde September-reënval teenoor verlede jaar ver oorskry. Tussen 1 en 25 September staan die Paarl se gemiddelde reënval op 203,5 mm teenoor 21,6 mm in September verlede jaar.
Franschhoek het die naweek alleen sowat 288 mm reën ontvang, lui die bronne.





