Om te leer vlieg, is vir seker ’n waaghalsige taak wat maklik weens onvoorspelbare omstandighede kan skeefloop.
Een so ’n ongelukstoneel is van ’n ligte vliegtuig wat op die Diemerskraal-vliegveld net buite Wellington neergetuimel en nooddienste Vrydagmiddag op hol gejaag het.
Die vliegtuig is deur ’n leerlingvlieënier, onder begeleiding van ’n vlieginstrukteur, tydens ’n oefensessie beman.
’n Ooggetuie wat die voorval van die vliegveld se loodse af aanskou het, sê dit was ’n “touch-and-go”-situasie.
Hy het met sy seun se persoonlike vliegtuig in die vliegveld se skure bystand gelewer toe hulle die ligte vliegtuig sien tuimel.
“Aangesien dit ’n oefensessie was, voer vlieëniers ’n roetine uit wat ’n mens ’n touch-and-go noem waar die tuig net die aanloopbaan raak en onmiddellik weer met volle krag opstyg, sonder om werklik te land.
“Ek verstaan die vliegtuig se enjin het skielik uitgesny toe hulle nog in die lug was. Die leerlingvlieënier moes uiteraard flink dink en het ’n netjiese noodlanding uitgevoer.”
Die ooggetuie sê die leerling het puik gereageer en die regte landingstegniek tydens dié naelbyt-situasie toegepas.
“Ongelukkig was die terrein waaroor die vliegtuig beweeg het, nie vliegtuig-vriendelik nie en die tuig se voorkant het in die grond vasgesteek.”
Foto’s van die ongelukstoneel wys hoe die vliegtuig se neus in die grond steek terwyl die res van die tuig skuins in die lug staan.
Hy sê die jong man wat agter die kontroles was, het net ligte skrape opgedoen, terwyl die instrukteur ook net lig beseer is.
Die slagoffers is deur Paarl Metro-nooddiensbeamptes op die toneel behandel.
’n Ander bron het kort ná die voorval aan Paarl Post bevestig die vleigtuig behoort aan die Cape Town Flying Club. . A light aircraft performed an emergency landing on Diemerskraal Flying Field just outside Wellington on Friday. The nose of the aircraft plowed into the ground as a result. Both the learner-pilot, under the guidance of his instructor, survived the crash with only minor injuries.





