Inwoners van Vlakkeland lewe in vrees dat hul wonings volgende in vlamme sal uitbreek nadat sewe dubbelverdieping-wooneenhede glo reeds die afgelope vyf maande sedert November 2021 aan die brand geraak het.
Lede van die Drakenstein-plaaswag sê hulle het die laaste twee van die brandvoorvalle bygewoon. Die mees onlangse brand was op 28 Maart. Inwoners vermoed die probleem lê by die wooneenhede se elektriese stelsels. Al die brande het ook in die klein slaapkamer op die boonste verdieping uitgebreek.
’n Paartjie wie se woning in Februarie gebrand het, is diep ongelukkig omdat hulle self ’n kontrakteur moes kry om die bedrading en kragproppe van die huis ná die brand reg te maak. “Toe moes ek R800 betaal vir daai man [die kontrakteur]. Die kontrakteur en munisipaliteit het toe die krag getoets en dis toe weer aangesit. Dit het lank gevat; seker so twee weke. Die hele yskas was vol vleis en ons moes als weggooi,” vertel die man, wat nie sy naam genoem wil hê nie.
’n Geruime tyd voor die brand het hul kragproppe vonke gespoeg. Hy het die Drakenstein-munisipaliteit daarvan in kennis gestel. “Toe sê hulle maar die mense wat hier gebou het, moet dit kom regmaak. Toe vra ek waar ek die nommer kan kry, want hulle [die munisipaliteit] moet vir my die nommer voorsien. Hulle het nooit uitgekom totdat die huis gebrand het nie.”
Volgens sy vrou was sy die dag van die brand alleen by die huis. Dit was voor 09:00 en sy was besig om aan te trek, want sy was op pad dorp toe. “Toe hoor ek net ’n kliek-geluid. Toe ek my kamerdeur oopmaak, sien ek net rooi by die klein kamer. Toe ek daardie deur oopmaak, brand die kamer al seker ’n hele kwartier, want toe is die hele kamer al aan die brand.”
Die brandweer was gou op die toneel en het die brand geblus voordat dit na die res van die huis kon versprei. Die vrou voel dit is ’n probleem dat hulle self die skade moet regmaak, alhoewel hulle nie die brand veroorsaak het nie. Sy sê wat haar nog meer hartseer maak, is dat hul raadslid verf belowe het, maar nooit met hulle ná die brand opgevolg het nie.
“Ons voel nou ons is hier neergegooi en niks word gedoen nie. Ons kan maar gaan kla; dit kan maar brand – hier word niks gedoen nie. Volgens hulle [die munisipaliteit] is dit net ons skuld. Iets moet iewers gedoen word. Die mense praat van drade wat los lê bo [in die dak]. Dit moet mos in ’n pyp wees, maar niks lê in ’n pyp nie.”
Terwyl sy na die meubels kyk, sê die inwoner dit is net “aardse goed”, maar as iemand sy lewe in ’n brand verloor, is dit ’n ander saak.
Sedert die kontrakteur hul bedrading en kragproppe ná die brand vervang het, het daar nog nie weer vuurvonkies by hul kragproppe uitgekom nie.
In ’n afsonderlike voorval is nóg ’n inwoner se slaapkamer deur vlamme verswelg. Dié brand het op 12 Januarie 2021 uitgebreek, en is nie deel van die afgelope vyf maande se brandvoorvalle nie.
Sy vertel sy en haar gesin het buite die huis gesit toe die bure skree hul kamer op die boonste verdieping is aan die brand. Hulle was nie bewus van die brand nie. Sy en haar gesin moes ook self vir die herstelwerk opdok. Sy is duidelik nog diep ontsteld oor die voorval en sê die munisipaliteit wil nou te kenne gee “dat iemand die huis aan die brand gesteek het”. Net soos die ander inwoners noem sy dat die bedrading in die dak ’n gevaar is.
“As jy in die dak opgaan, sal jy die bedrading van die huise sien. Daai een Drakenstein-man het erken dit is baie swak gedoen, maar niemand kom vorendag nie. Die ander ding is ook as dit baie reën, is dit reg rondom daai kragmeterboks binne, waar ons die krag indruk, sommer sopnat.”
Nog inwoners het aan Paarl Post gesê hul kragproppe “spoeg vuur” en die krag skop uit as hulle meer as een toestel gebruik. Alhoewel ’n brand nie by hul woning uitgebreek het nie, voel ’n paartjie, wat al twee jaar in Vlakkeland woon, hulle moet ekstra versigtig wees – veral in die lig van al die brande wat in hul woonbuurt aangemeld is.
Marius Wüst, uitvoerende direkteur vir Drakenstein se ingenieursdienste, sê die Vlakkeland-behuisingsprojek word deur die Wes-Kaapse regering hanteer.
Raadgewers en kontrakteurs wat by die projek betrokke is, is ook deur die provinsiale regering aangestel.
“Die provinsiale regering bestuur dus die elektriese stelsels se ontwerp (grootte, toevoer en standaarde), asook die toesighouding deur die raadgewer wat aangestel is.
“Die provinsiale regering se elektriese kontrakteur het die konstruksie en installasies gedoen, waarna die kontrakteur ’n “certificate of compliance” per wooneenheid voorsien het.
“Hierdie sertifikaat bevestig dat die installasie getoets is en resultate lewer soos deur die wet vereis word. Dié sertifikaat word dan die eienaar se eiendom om te bevestig dat alles veilig en in werkende toestand is wanneer die huis oorhandig word.
“Daarna word die gebruik en beheer van die installasie die verantwoordelikheid van die eienaar of huurder.”
Wüst voeg verder by dat die munisipaliteit se betrokkenheid bloot is om seker te maak dat die sertifikaat van voldoening reg is voordat die hooftoevoer by wooneenhede aangeskakel word.
“Wat die aantyging betref dat die oorsaak van die brande die elektriese stelsels is, bestaan geen bewyse nie en dit sal eers ondersoek moet word.
“Die afskakeling, soos genoem, is suiwer weens die limiet wat bereik word tydens oorlading. Ons het vroeër ooreengekom dat die huishoudings in Vlakkeland ’n sekere ampère-waarde sal kry, en dit is hoe die meters opgestel is.
“Daardie limiet kan wel verhoog word, wat teweeg sal bring dat die beskikbaarheidsheffing ook meer sal word.”
Navrae is aan Tertuis Simmers, die Wes-Kaapse LUR vir behuising, rakende die bewerings oor die elektriese stelsels van die verskillende wooneenhede gestuur.





