’n Sterk kouefront trek vanmiddag oor die Wes- en Noord-Kaap en ysige weersomstandighede word verwag.
Nat en baie winderige toestande word oor die Wes-Kaap en suidelike Namakwa verwag met die kwik wat skerp daal tot ’n verwagte maksimum-temperatuur van onder 10 °C in sommige gebiede môre (Saterdag 8 Julie) en Sondag.
Sneeu kan ook op hoogliggende gebiede en bergpieke verwag word.
Sterk noordwestelike wind met ’n spoed van tussen 50-70 km/h en rukwinde van tot 80 km/h word Vrydag en Saterdag oor die Kaapse Wynlande, die suidelike dele van Namakwaland en die Sentraal-Karoo-distrikte verwag. Die sterk wind kan moontlik strukturele skade in hierdie gebiede veroorsaak – veral aan informele nedersettings, maar ook in formele gebiede.
Padgebruikers word ook gewaarsku om uiters versigtig te wees.




