Die 81-jarige tannie Elze Visser helder die wêreld rondom haar op met haar kleurvolle pienk hare, en dit als om meer bewusmaking te skep oor kanker.
Visser, ’n inwoner by Rusoord-tehuis in die Paarl, vertel sy veg vir meer as ’n dekade teen kanker. Sy het onlangs weer positief vir die siekte getoets. Met haar onlangse diagnose (en al die voriges) erken Visser dat die nuus haar verpletterd gelaat het, maar steeds laat die tannie haar nie onder kry nie.
“Dit is nou al amper 14 jaar wat ek aan en af kanker beveg. Ek het eers ’n dubbele mastektomie gehad, en toe ’n radikale verwydering aan die linkerkant. Ek het toe weer bestraling ontvang. En nou het daar ’n kanker uitgekom en ontwikkel.
“Dit is nie borskanker nie want ek het nie borste nie, maar dit het nou gaan sit in my ribbes en dit gaan nou al deur my liggaam. Dit is nou al in my ore by my kop. By tye dan vlam dit op en dan swel my gesig en dan gaan dit weer af. ”
Visser is gretig om met mense te deel hoekom sy haar hare pienk dra. Sy is dus altyd gereed vir vrae.
“Ek dra pienk hare en almal sê dit is mooi. Niemand het nog die moed gehad om vir my te sê dit is nie mooi nie. As mense vra, dan praat ek met hulle en sê dat ek my hare pienk dra omdat ek mense wil bewus maak van borskanker. Dan vra ek hulle wanneer laas is hulle getoets vir borskanker.
“Ek het al baie mense gekry, veral mans, wat nie geweet het hulle kan borskanker kry nie. Ek het my hare begin pienk kleur toe die kanker begin het. Ek het eers net ’n pienk strepie in my hare gehad en ná die chemoterapie het my hare uitgeval en toe dit weer begin uitkom, het ek dit heeltemal pienk gemaak. Dit het almal laat praat en ek het baie reaksies gekry, en ek het besluit om dit so te hou.”
Maxine de Villiers, Visser se dogter, sê haar ma is baie passievol daaroor om met mense oor kanker te gesels.
“Almal wat haar sien met haar pienk hare vertel sy van kanker. Met haar nuutste kankerdiagnose het dokters gesê daar is nie meer borste waarin sy kan kanker ontwikkel nie, so dit het binne die ribbes gegaan. Die dokters kan net vir haar morfien gee om dit beter te maak. Hulle (die dokters) sê ons almal moet voorberei [vir die ergste], maar sy wil niks daarvan hoor nie. Daar was al soveel kere toe sy dood moes wees met die kanker toe dit die Covid-pandemie was. Hulle het gebel en gesê ons moet regmaak want sy kan nie altwee beveg nie, sy is te siek. En tog het sy deurgedruk.”
Met net ’n staatstoelaag wat sy elke maand ontvang, is Visser nou ook op ’n missie om haar gebreekte klein yskas in haar kamer te vervang. Maar maak nie saak wat oor haar pad kom nie, Visser pak elke dag met hernude krag aan en ’n positiewe uitkyk op die lewe.
“Ek kry baie met jongmense te doen. Hier kom baie kinders wat vir ons ’n lekkertjie bring en dan vra hulle uit oor my hare. Dan praat ek met hulle en sê hulle moet sommer saam met hul ma’s vir hulle laat toets. ’n Boodskap wat ek saam met elke jongmens wil deel is dit was nooit te vroeg nie, maar dit was baie keer te laat.”





