Die inwoners van die land is al ’n geruime tyd lank vuisvoos vir die daaglikse nuus oor ons korrupte en bedrieglike regeringslede.
Maar nou, wanneer gerugte hiervan al hoe nader aan die huis beweeg, flikker die waarskuwingsligte opnuut.
Dit blyk dit het nou in enige regering, hetsy nasionaal of plaaslik, kultuur geraak om te steel en te bedrieg waar jy kan.
Stories oor bedrieglike optredes by die Drakenstein-verkeer kom al jare lank aan. Hierdie afdeling is reeds in chaos gedompel met swak dienslewering oor die jare en belastingbetalers van Drakenstein moet etlike maande lank wag om afsprake vir bestuurlisensietoetse te kry, of partykeer dae lank in rye staan net om lisensies, padwaardigheidsertifikate en dies meer te bekom.
Dus is dit ’n bitter pil om te sluk wanneer ernstige bewerings en ondersoeke gedoen word na bedrog by die departement wat voorkeur bied aan diegene wat nie eens hier woon nie.
’n Mens kan maar net hoop dat diegene wat in hierdie afdeling aan die stuur van sake staan, of selfs nou hoër op geplaas is, kennis sal neem – nie net om enige bedrog en korrupsie hier uit te wis en dié wat verantwoordelik is, voor stok te kry nie, maar ook om beter diens in die geheel by die wankele Drakenstein-verkeersentrum te verskaf.
Let ook daarop dat ’n vis van sy kop af ondertoe verrot.
,




