Dit was Vineyards se B-span wat weggeloop het met die wentjek vir R10 000, goue medaljes, die Speler van die Toernooi-toekenning, en die titel en spogregte vir die volgende jaar ná afloop van die Jive Young Gardens Sewesrugbytoernooi die afgelope Vrydag en Saterdag in die Boland-rugbystadion in Wellington.
Die toernooi het Vrydag afgeskop met die senior spanne wat mekaar gepak het om te bepaal in watter afdeling hulle die volgende dag gaan speel. Die 16 spanne het opwindende rugby opgedis en veral die wedstryd tussen Albions en Rangers was ’n naelbyter. Die telling aan die einde van gewone speeltyd was 5-5 en toe moes ekstra speeltyd die wenner bepaal, met die span wat eerste punte aanteken wat na die wennersafdeling deurdring.
Dit was Albions wat Rangers se hart met ’n suksesvolle strafskop gebreek het. Die verdedigende kampioenspan, Young Peoples, was vuurwarm in sy wedstryd teen Vineyards A en het met 38-3 oorheers.
Ander uitslae Vrydagaand:
Lower Paarl B 5, Allandale 33; Violets 5, Young Standards 22; Young Gardens A 38, Pêrel United 5; Lower Paarl A 21, Blue Stars United A 19; Windmeul 28, Paarl 19.
Saterdag het Young Standards vir Allandale getroef, Vineyards B vir Young Gardens A, Laer-Paarl vir Albions en Peoples vir Windmeul om deur te dring in die Beker-afdeling se kwarteindstryde.
Laer-Paarl moes aanvanklik hard veg om Peoples uit te skakel, maar het uiteindelik gerieflik met 31-14 in die halfeindstryd geseëvier. In die ander halfeindstryd het Vineyards B ook geswoeg om Standards ore aan te sit. Die telling was 14-7.
Peoples het darem R2 500 verdien deur die derde plek ten koste van Standards in te neem ná ’n oorwinning van 14-7 in ’n klipharde wedstryd.
Die eindstryd was ’n riller, met albei spanne wat alles ingesit het om die wentjek vir R10 000 huis toe te neem. Dit was egter Vineyards B wat danksy ’n oorwinning van 21-17 breed kon glimlag.
Laer-Paarl het darem R5 000 gewen vir sy harde werk die naweek.
Vineyards se Dillan Cloete is aangewys as die Speler van die Toernooi en hy het ’n tjek vir R6 000 ontvang.
Klein Nederburg Senior Sekondêr het die titel vir hoërskole verower deur Paulus Joubert 14-5 in die eindstryd te klop. KN het Charleston Hill in die uitspeelwedstryd met 29-5 geklop en Paulus Noorder Paarl met 22-5.
KN se prysgeld was R5 000. NP het derde geëindig nadat hy Charleston Hill met 26-12 getroef het.
KN se Mashier Slamdien is aangewys as die Speler van die Toernooi en hy het R3 000 daarvoor gewen.
Paarlzicht was die ander skole se baas en het Sonop in die eindstryd met 31-0 vir die wentjek vir R4 500 oorrompel. Die kampioenspan se Heywin Danse was die Speler van die Toernooi en sy prysgeld was R2 000.
In die vroue se vertoonwedstryd het Paulus Joubert Senior Sekondêr die Kraaifontein Warriors-span 10-0 geklop en in die proses R5 000 teenoor die R2 500 van die verloorspan ontvang.
Ander wenners: Skild: Blue Stars;
Bowl: Rangers; Plaat: Albions (R1 000).





